Jackson Pollock’s Mural: Energy Made Visible, ‘n uitstalling met twee dosyn werke van dié Amerikaanse kunstenaar, is tot einde verlede jaar in Venesië se Peggy Guggenheim-museum uitgestal.
Deur JOHAN MYBURG
Mural word as ‘n keerpunt in Amerikaanse kuns beskou. Hoewel Pollock se tegniek in die later werke aangeprys is, het dit nie die trefkrag van Mural oorskadu nie
Mural, ‘n tamaai skildery van 605 cm x 247 cm wat Jackson Pollock (1912–1956) in 1943 vir die voorportaal van Guggenheim se woonplek in Manhattan gemaak het, was deel van dié versameling as werk wat tekenend van Pollock se vormingsjare tydens die Tweede Wêreldoorlog is.
Toe die kunskritikus Clement Greenberg dié skildery die eerste keer onder oë gekry het, het hy opgemerk: “I took one look at it and I thought, ‘Now that’s great art,’ and I knew Jackson was the greatest painter this country had produced.”
Pollock was 31 en toe nog relatief onbekend. Dit was Guggenheim se vriend en raadgewer Marcel Duchamp wat Pollock vir dié opdrag voorgestel het. In sy kort lewe – hy is 13 jaar later dood – het Pollock weliswaar die voorste eksponent van Amerikaanse abstrakte ekspressionisme geword.
Guggenheim het Pollock ‘n toelaag van 150 dollar per maand betaal, maar Pollock kon nie aan die werk kom nie. Guggenheim het hom ʼn ultimatum gestel: Die werk moes vir ‘n partytjie in Januarie 1944 by haar huis klaar wees. Lee Krasner, Pollock se latere vrou, het vertel toe sy die aand voor die ultimatum verstryk, gaan slaap het, was daar nog geen merk op die doek nie.
Die volgende oggend was die doek van sowat 53 vierkante meter ʼn energieke bontspul in blougrys, geel, rooi en swart.
Dit was die storie wat lank vir waarheid aangebied is, onder meer in die 1989-biografie van Steven Naifeh en Gregory White Smith, Jackson Pollock: An American Saga.
Die skildery wat aan die University of Iowa Museum of Art behoort (Guggenheim het die skildery wat vir iets soos R140 miljoen dollar verseker is, in 1951 aan die universiteit geskenk toe sy na Venesië verhuis het), het in 2008 tydens ‘n oorstroming waterskade opgedoen. Tydens die restourasieproses by die J Paul Getty-museum in Los Angeles wat 19 maande geduur het, is bogenoemde mite die nek ingeslaan: ‘n Span navorsers het vasgestel dat die skildery oor ʼn tydperk van weke geskilder is, met verskeie lae verf wat drooggeword het voordat nuwe lae aangebring is.
Wat wel moontlik is, is dat Pollock ‘n bestaande komposisie gebruik het en inderhaas bo-oor dit gewerk het.
Tydens die restourasie is die skildery se struktuur, die raam waaroor die doek gespan is, versterk en die vernis wat in die 1970’s aangebring is, verwyder.
Mural word as ‘n keerpunt in die Amerikaanse kuns beskou. Hoewel Pollock se tegniek in die later werke aangeprys is, het dit nie die trefkrag van Mural oorskadu nie. In dié skildery (wat in 1944 voltooi is, maar die datum 1943 dra) is dit die bravura van kwaswerk gekoppel aan die grootte van die doek (dit bly Pollock se grootste werk) wat die kroon span. Met dié werk het Pollock skilderwerk van skaal bevry.
‘n Mens moet in gedagte hou dat dit geskilder is om van naby bekyk te word, vir Guggenheim se voorportaal, en nie oor ‘n afstand nie. Dit is by die naby kyk dat ‘n mens van die energie van die werk bewus word. Soos Pollock dit beskryf het: “Dit is die dolle vaart van al wat ʼn dier in die Wilde Weste is, beeste en perde en wildsbokke en buffels. Alles jáág oor die doek.”