Daar’s ‘n jaarplan vir jou geldsake in ons 1 Januarie 2016-uitgawe. Hier is nog geldraad
Wanneer dit by geldsake kom, is een van die algemeenste vrae: Wat is die beste manier om op die medium termyn te spaar, dalk vir daardie swembad waaroor ons al lank droom of vir ’n oorsese reis? Moet jy doodgewoon elke maand ’n paar rand “opsysit, of is dit moontlik om jou geld so te spaar dat jy vir dié rukkie ’n paar rand rente kry? Hoe weet ek of ek te veel of te min spaar? En hoe weet ek of my geld veilig is?
Volgens Hein Kruger, hoofbeleggingsbeampte van Kruger Internasionaal en skrywer van Leer meer oor geldsake en Jou geldsake, is “medium termyn” vanuit ’n beleggingsoogpunt tussen drie en tien jaar. “Indien jy dus oor twee jaar ’n swembad wil bou, is jou beste beleggingsopsie om ’n kollektiewe belegging (effektetrust) te gebruik in die beleggingsklas vir multibate- bestuurde fondse met ’n lae blootstelling aan aandele.
“As jou termyndoelwit drie jaar en langer is, kyk ’n mens na kollektiewe beleggings in die beleggingsklas vir multibate- bestuurde fondse met ’n medium blootstelling aan aandele. Hierdie twee beleggingsklasse maak gebruik van opgeleide, gekwalifiseerde fondsbestuurders wat jou beleggingsrisiko op ’n wetenskaplike manier versprei en saamstel om jou spesifieke doelwit te bereik. Om die bes presterende fonds van die oomblik te kies, kan beteken dat jy aan die einde van jou beplande termyn in die swakste presterende fonds in die beleggingsklas mag eindig. Daarom is dit ‘n goeie plan om van meer as een beleggingshuis se fondse in dieselfde beleggingsklas gebruik te maak.
Nog iets waaroor baie mense wonder, is: Julle het dalk elke maand, nadat julle seker gemaak het julle begroting klop, ’n bedrag geld oor wat julle wil spaar. Is dit ’n goeie idee om dié bedrag by jul maandelikse verbandbetalings te voeg?
“As julle nie jul spaargeld teen ’n hoër rentekoers kan belê as wat julle op julle verbandlening betaal nie,” sê Jason Lee, skrywer van Retire Rich Through Property, “is dit ’n baie goeie idee om dié geld te gebruik om jul huislening gouer af te betaal deur jul maandelikse paaiemente te verhoog. Sodoende word julle ‘gedwing’ om elke maand te spaar. Dit is verder belangrik om jul bank te vra dat jul paaiemente onveranderd bly, selfs al word die rentekoers verlaag. Indien jy nie die bank in kennis stel nie, sal die bank jul maandelikse paaiement outomaties verminder.