Staan intelligensie in die pad van geluk? vra Kristel Loots in ons 5 Februarie-uitgawe. Lees hier meer
Hoekom lyk dit soms asof intelligente mense meer geneig is tot ongelukkigheid? Daar is selfs sosioloë wat beweer die Westerse samelewing is nie daarop ingestel om intelligente kinders en volwassenes te huisves nie. Hulle word anders behandel as byvoorbeeld sportsterre wat op die hande gedra word.
Intelligensie is net één aspek van menswees
Begaafde mense het na alle waarskynlikheid ’n helderder blik op die tekortkomings van ’n onvolmaakte wêreld. Omdat hulle beter verstaan wat die gevolge van ondeurdagte dade kan wees, ly en wroeg hulle meer terwyl gewone mense hulle nie noodwendig so erg daaraan steur nie. Die filosoof Alexander Penney van die MacEwan-universiteit in Kanada, het bevind dat selfs bekommernisse oor alledaagse klein jakkalsies die meer intelligente studente pla en hulle van hul vreugde ontneem. Om gedurig bekommerd te wees, kán dus ’n teken van intelligensie wees.
Selfmisleiding kan wondere verrig. Die sielkundige Joanna Starek wys daarop dat sportsterre wat daarin slaag om hulself te oor hul vermoëns mislei daarin slaag om groter sukses te behaal. Sukses lei tot geluk. Maar intelligente mense kry dit helaas nie so maklik reg om vir hulself te lieg nie.
Om te onthou
’n Begaafde of hoogs intelligente kind, jongmens of volwassene is in die eerste plek méns met al die gewone of “normale” begeertes as sy of haar minder intelligente eweknieë. Emosionele en sosiale intelligensie dra net soveel of meer by tot hoe gelukkig so iemand sal wees.
Daniel Goleman, skrywer van Social Intelligence: The New Science of Human Relationships predik dat sosiale intelligensie interpersoonlike vaardighede insluit. Die menslike brein is van nature daarvoor geprogrammeer om interaksie met ander te hê. Om ’n randeier te wees, kan die geluk waarna jy streef deur jou vingers laat glip. Die mens ervaar verwerping op dieselfde plek in jou brein waar pyn registreer word. Suksesvolle en gesonde interpersoonlike verhoudings en geluk gaan hand aan hand.
Vir slimkoppe is dit gewoonlik moeiliker om ander te vind wat op dieselfde golflengte as hulself verkeer. Daarom verskaf organisasies soos Mensa, waar lede met bogemiddelde intelligensie bymekaar kan uitkom, nie alleen stimulasie en uitdagende ‘spel’ nie, maar vul dit ook ’n sosiale behoefte.
Let op na die volgende
- Onderprestasie kan kop uitsteek om by die res van die onmiddellike gemeenskap aan te pas.
- Weet dat jou kind dalk meer krities teenoor jou of die res van die gesin gaan wees, veral as julle nie aan sy “standaarde” voldoen nie. Plato het na hierdie kinders as goue kinders verwys. Sy pleidooi was dat ’n kind met ’n goue siel nie as gevolg daarvan teruggehou behoort te word nie.
- Enigiemand, ook diegene wat aan sukses en prestasie gewoond geraak het, het erkenning en aanmoediging nodig.
- Begaafdheid sluit nie noodwendig elemente van leierskap in nie.
- Moenie eens probeer om iemand wat intelligent superieur is met knolle vir sitroene weg te stuur nie. Jou geloofwaardigheid en die respek vir jou as mens gaan in die slag bly.
- Begaafdheid moet na waarde geskat word, gekoester word en tot die voordeel van almal aangewend en ontwikkel word.