Daar is toenemend stemme wat teen suiker opklink, maar is suiker regtig so sleg vir ons? vra JB Roux in ons 27 November-uitgawe. Lees hier meer
JB Roux
Karen Thomson is medeskrywer van Suikervry – 8 weke na vryheid van suiker- en koolhidraatverslawing en stigter van Harmony Eat and Lifestyle-program (HELP). Sy voel veral sterk daaroor dat mense in die algemeen heeltemal te veel suiker inneem.
“Sommige mense kan daarmee wegkom om bloot minder suiker te eet, maar vir die meeste is dit nie ’n goeie idee nie,” sê Karen oor of dit nodig is om suikerinname heeltemal uit te skakel – en of dit genoeg sal wees om die hoeveelheid suiker in ons diëte bloot te beperk.
“Selfs ’n klein bietjie suiker skep by baie mense die drang om meer en meer soetigheid te eet. Dit word ’n kringloop en eindelik neem so iemand weer heeltemal te veel suiker en kalorieë in. Die gevolg is slegte gesondheid en gewigstoename.
“Bekostigbaarheid bepaal tot ’n groot mate wat ons in ons supermarktrollies laai, maar gesondheidskos is gewoonlik net by spesialiswinkels beskikbaar – teen ’n prys. Maar dit is nie ’n verskoning om ongesond te eet nie. Die Noakes-stigting het onlangs ’n proefneming gedoen waar ’n aantal vroue ’n proteïen-gebaseerde dieetplan gevolg en gewig verloor en oor die algemeen gesonder gevoel het – teen sowat R40 per dag.
Die ‘geheim’ is om nie op duur kosartikels te fokus nie, maar eerder op onverwerkte kossoorte.”
Karen glo daar sal ’n tyd kom wanneer alternatiewe voedselprodukte soos amandelmeel, kokosneutolie en botter (pleks van margarien) maklik bekombaar is – by kleinhandelaars wat dit kan bekostig om sulke produkte aan te hou. Die res sal hopelik op onverwerkte produkte soos “orgaanvleis” (soos liewer en niere), vleis, pluimvee en vis staatmaak. Dit sluit die vet van hierdie diere in. Ook vars groente wat help om ons gesond te hou. Hulle sal hopelik suiker, verfynde koolhidraatprodukte soos koek en brood en verwerkte produkte soos blikkieskos vermy.