Watter ouer sien nog in vandag se tyd uit eie keuse kans vir agt kinders? Shanda Luyt het hulle ontmoet.
Shanda Luyt
Agt kinders! In hierdie dag en eeu?
“Dit ís baie! Ek weet!” lag Marie Oosthuizen (45) van Jeffreysbaai. As jy na haar vietse lyf kyk, is dit moeilik om te glo sy is die ma van ’n 19–jarige (plus nog sewe kinders). Dalk help dit dat ouerskap vir Marie en haar man Willie (46) ’n avontuur is waarvan hulle elke oomblik geniet.
• Leer meer oor die gesin in 21 November-uitgawe en kyk hier na hoe hul dag verloop
’n Dag by die Oosthuizens
Hul skooldag begin agtuur soggens, maar voor dit moet almal eers help huis skoonmaak en wasgoed was, vertel Marie.
“Ons doen al ons huiswerk self en het ’n hele takelys. Elke kind kry ’n beurt om ontbyt te maak. Hulle werk twee-twee en moet opwas, afdroog en alles bêre. Elkeen kry ’n beurt om kombuis asook die badkamers skoon te maak. Ons moet sesuur opstaan om alles gedoen te kry.”
Marie tuisskool die kinders, maar sê dit hou glad nie verband met die feit dat hulle agt is nie.
“Ek sou in elk geval tuisonderrig gegee het. Ons het baie gestruktureerd en formeel begin met ’n kurrikulum en soos ons aangegaan het, het ons begin agterkom elke kind se leerstyl is anders en elkeen het ander gawes en talente. Die oomblik wat ons agterkom wat dit is, probeer ons dit maksimaal benut. Dit is dus bietjie anders as skool.
“Amand is byvoorbeeld ’n entrepreneur, so ons leer hom goeie sakevaardighede, werksetiek en so meer. Hy bedryf reeds sy eie onderneming en koop en verkoop dat dit klap. Op die oomblik versamel en verkoop hy munte. Joha het weer van kleins af elektriese goed gebou – goed wat rondvlieg en rondry in die huis, so hy fokus hierop.”
Ná skool neem hulle aan ’n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite deel.
“Die meisies en Ruben doen artistiese gimnastiek en al ons seuns speel krieket, sokker en rugby. Hulle skakel by plaaslike skole in en die oueres speel vir die dorpsklub.”
Hulle kinders sosialiseer baie, glo Marie. Willie vertel elke kind het sy eie vriendekring. Hy en Marie is self ook lief vir vriende en kuier en is baie betrokke in die gemeenskap en kerk.
Die kinders sê …
Joha (18): “Ons gesin is besig en ons huis raas altyd, maar dis lekker! Ek hou daarvan en sou dit nie anders wou hê nie. Van ons vriende kom een keer en dan nooit weer nie, ander kom altyd weer en weer. Of jy hou daarvan of dit freak jou uit.”
Ruben (16): “Dis baie besig, maar hier is altyd iets om te doen of iemand om mee te speel.”
Amand (14): “Jy word nooit verveeld nie, maar hulle kan jou mal maak! Tog is dit meer lekker as nie lekker nie.”
Micha (12): “Dit gaan mal! Alles word vinnig gedoen. Die skottelgoed word ook gelukkig vinnig gedoen!”
Jolize (10): “Dis vir my lekker, want jy is nooit verveeld nie en as jy vir een kwaad is, kan jy met die ander een speel.”
Caro (8): “Die lekkerste is as ons kaart speel soos Uno of Snap of speletjies soos Monopoly. Of as ons Desember-maande op die stoep slaap! Ek wil eendag net twee of vier kinders hê.”
Vanja (7): “Dis lekker om met mekaar te speel.”
Wat sal die mense sê?
“Ons kan ’n hele boekie skryf oor die op- en aanmerkings wat ons al gehoor het,” lag Marie.
“As ons in die winkelsentrum loop, sal mense eerste vra: “Is almal julle s’n?”
Dan sê ons: “Nee, die ander helfte is by die huis!” Dan dink hulle ons maak ’n grap! Die tweede vraag is gewoonlik: “Is dit joune en syne?” omdat hulle dink ons is geskei en dis die kinders uit ons onderskeie huwelike. En dan: “Is daar tweelinge?” En dan natuurlik: “Het julle nie ’n TV nie?” Nog ’n algemene vraag is of hul gesin nou voltallig is.
Willie sê die meeste reaksie wat hulle kry, is positief.
“In Jeffreysbaai ken die mense ons nie as Willie en Marie Oosthuizen nie, maar as die mense met die agt kinders.” Tog het hulle al een of twee vyandige reaksies gekry. “Dit is meer in die stede, byvoorbeeld as ons met al ons kinders op die lughawe staan, dan hoor jy snaakse opmerkings.”
SOURCES
Verskaf