Ons kyk na dinge wat jou lus blus, waarom mans nie dokter toe gaan met erektiele probleme nie en ’n emoji wat dit vir tieners makliker maak om oor veilige seks te praat
Deur: CHRISTA SWANEPOEL
Het jou sekslus verdwyn en wonder jy waarom? Dit is ’n algemene probleem wat mans én vroue raak, maar heel dikwels het mense nie ’n idee wat die oorsaak is en hoe om dit reg te stel nie. Durex noem tien dinge wat jou sekslus kan laat kwyn:
Medikasie
Sekere medikasies kan ’n ernstige invloed op jou libido hê. Antidepressante kan byvoorbeeld jou libido onderdruk en dit moeilik maak om ’n orgasme te bereik. Bespreek die newe-effekte van jou medikasie met jou dokter en vind uit of daar nie ’n alternatief is nie.
Hormone
Afhangende van die tyd van die maand of hoeveel testosteroon (die hormoon wat die libido ondersteun) jou liggaam produseer, sal jy minder (of meer) seks wil hê. Vroue wil dikwels tydens ovulasie meer seks hê en mans sal soggens ’n groter behoefte aan seks hê omdat die testosteroon dan ’n hoogtepunt bereik.
Gebrek aan kommunikasie
Min mense praat oor seks. Een van die groot redes waarom jou libido nie is wat dit moet wees nie, is omdat jy en jou maat nie praat, of kan praat, oor wat julle graag in die bed wil hê nie. Seks behoort tot ’n oop en maklike gesprek te lei, nie iets waaroor jy skaam en verleë hoef te wees nie.
Verhoudingsprobleme
As jy ongelukkig in jou verhouding is, sal seks nie bo-aan jou prioriteitslysie wees nie. Vir baie is seks die barometer van hoe die paartjie in die verhouding voel. As jy ongelukkig is en jou libido verdwyn het, is dit tyd om met mekaar te praat.
Trauma in die verlede
As iemand in sy of haar verlede trauma ervaar het – seksueel of andersins – kan dit ’n enorme invloed op die libido hê. Die herinnering aan die trauma kan keer dat jy seks wil hê, of terugflitse kan voorkom as julle wel seks het, wat tot gevolg het dat jy seks vermy. As jy vermoed dis jou probleem, moet jy gewis ’n sielkundige raadpleeg
Gebrek aan selfvertroue
As jy nie selfvertroue het nie, sal jy seks vermy omdat jy jou sal bekommer oor hoe jy in die bed is en of jou maat jou sal kritiseer. As jy min selfvertroue het, vra jou maat wat jy doen waarvan hy of sy hou. Dit sal jou goed laat voel as jy iets doen waarvan hy of sy hou.
LEES OOK: Seks en roosmaryn kan jou BAIE oud laat word
Druk
Een ding wat jou libido kan knou, is as jy druk tydens seks ervaar. As jy onder druk voel, geniet jy nie die ervaring nie. Dink minder aan wat jy meen jy moet doen en voel en fokus liewer op wat jy wel voel en geniet.
Kinders
Kinders steel nie net jou libido omdat hulle soveel tyd verg en jy saans stokflou is nie. Dit kan ook wees dat jy skielik jou rol anders sien – eerder as ’n ouer as ’n geliefde en maat. Dis belangrik dat kinders nie jou lewe en verhouding oorneem nie.
Stres
Een van die grootste struikelblokke as dit by jou libido kom, is stres. Hoe moeër en meer gestres jy is, hoe minder sal jy lus wees vir seks. Jy sal eerder werk of slaap as wat jy seks sal wil hê. Wees goed vir jou maat (en jouself). Die lewe is stresvol, daarom sal daar tye wees wat dinge in die slaapkamer nie verloop soos dit moet nie. Wees geduldig.
Verveling
As jy verveeld is met wat tussen die lakens aangaan – met jou maat of die seks self – sal jou libido dit wys. Praat met jou maat oor wat julle kan doen om dit te verbeter.
Een van die grootste struikelblokke as dit by jou libido kom, is stres. Hoe moeër en meer gestres jy is, hoe minder sal jy lus wees vir seks
’n Emoji vir veilige seks?
Durex het ’n internasionale veldtog van stapel gestuur vir die ontwikkeling van die wêreld se eerste “veilige seks”-emoji. Navorsing wat hulle gedoen het, wys dat emoji’s ’n groot rol speel in jongmense se gesprekke rondom seks. Altesaam 80% van 16–25-jariges sê hulle kan hulself makliker met emoji’s uitdruk en meer as die helfte van die ondervraagdes sê hulle gebruik emoji’s as hulle oor seks praat. Wat meer kommerwekkend is, is jongmense se apatie wanneer dit by veilige seks kom – ’n derde het aangedui dat hulle hulle nie aan veilige seks steur nie. Byna die helfte glo nie dat hulle ooit deur MIV/vigs geraak sal word nie. Om dié redes het Durex die veldtog begin om die maatskappy wat emoji’s skep, sover te kry om een vir veilige seks te skep. “So ’n emoji sal dit vir jongmense makliker maak om veilige seks te bespreek en die belangrikheid van kondome beklemtoon om hulle teen seksueel oordraagbare siektes te beskerm,” sê Alexia Theocharis, Durex se handelsmerkbestuurder.
Daar is hulp, maar mans is te skaam
Meer as vier uit tien mans in Suid-Afrika oor die ouderdom van 40 ly aan erektiele disfunksie (ED) maar net 15% soek hulp en nog minder gebruik medikasie. Dit is volgens Pharma Dynamics – ’n voorste verspreider van generiese oor-dietoonbank- medikasie vir ED.
Tumi Motsei, ’n segspersoon vir Pharma Dynamics, sê daar kan verskeie redes wees waarom mans nie medikasie gebruik nie. Dit kan die persepsie rondom die prys wees en dat namaaksels van die medikasie vrylik oor die internet beskikbaar is, maar die grootste rede is waarskynlik dat mans nie wil erken, selfs nie aan die apteker nie, dat hulle ’n bietjie hulp in die slaapkamer nodig het nie. Sedert die bekendstelling van generiese medikasie vir ED in 2013, wat die koste per tablet met die helfte gesny het in vergelyking met die naamproduk, het die toename in die aankoop van ED-medikasie met ’n skrale 4% gestyg.
Volgens Tumi kan dit wees dat mans wel ’n voorskrif kry, maar dit nie gaan afhaal nie. “Baie mans sien daarteen op om kortkort hul voorskrif by die apteek te gaan haal. Pharma Dynamics het nou ’n groter pak beskikbaar om dit vir mans makliker te maak,” sê Tumi.
LEES OOK: Vroue, hul lywe en seks
Meer oor ED
Vroeër is ED as ’n oumansiekte gesien, maar deesdae kom al meer jonger mans dit ook oor. Omtrent ’n kwart van mans wat oor ED kla, is jonger as 40. Tumi waarsku dat ED dalk ’n onderliggende simptoom van ’n groter probleem is. ED word aan chroniese lewenstylsiektes soos hoë bloeddruk, hartsiektes en diabetes gekoppel wat dikwels aan vetsug, rook en alkoholgebruik gekoppel word.
Mans wat dus met ED sukkel, word aangeraai om ’n deeglike mediese ondersoek te ondergaan. Fisieke oorsake van ED sluit kardiovaskulêre siektes, verstopte are, hoë cholesterol, hoë bloeddruk, diabetes, vetsug, parkinsonsiekte, metaboliese sindroom, meervoudige sklerose, lae testosteroonvlakke, Peyronie-siekte, alkoholisme en ander vorms van middelmisbruik, sekere voorgeskrewe medikasie, rook, operasies of beserings rondom die pelvis en rugstring in. Sielkundige oorsake is stres, geestesiektes soos depressie en angs en verhoudingsprobleme.