Dis tyd dat jy die hoeveelheid sout in jou dieet heroorweeg
Christa Swanepoel
Te veel sout kan ’n verwoestende uitwerking op jou gesondheid hê. “’n Hoë-natrium-dieet word verbind met hoë bloeddruk, wat op sy beurt jou risiko van gesondheidsprobleme soos hartsiektes en beroerte kan verhoog,” sê Allison Vienings, uitvoerende direkteur van die Self-Medication Manufacturers Association of South Africa (SMASA). “Wat dit kommerwekkender maak, is die feit dat Suid-Afrika een van die hoogste vlakke van hipertensie in die wêreld het.”
Hoeveel is te veel?
Sout bestaan uit twee minerale, natrium (40%) en chloried (60%).
Natrium speel ’n belangrike rol in verskeie van die liggaam se prosesse: dit handhaaf die balans in ons selle, laat ons spiere saamtrek, versend senuwee-impulse, en help ons verteringstelsel om voedingstowwe te absorbeer.
Dit is ’n feit dat ons liggame natrium nodig het, maar ons moet ons inname daarvan fyn dophou. Terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel dat volwassenes minder as ’n teelepel sout per dag (5 g) inneem, bereken kundiges dat sommige Suid-Afrikaners aansienlik meer inneem. Sommige Suid-Afrikaners verbruik glo soveel as 40 g per dag. Volgens dr Vash Mungal-Singh, uitvoerende hoof van die Hart- en Beroerte-stigting SA, is die probleem dat tot 60% sout in produkte verskuil is en deur mense verbruik word wat waarskynlik nie bewus is van die hoë soutinhoud in hul kos nie.
Waar kom die natrium in ons diëte vandaan?
• sout en speserye wat ons tydens die kookproses of maaltye tot ons kos voeg
• natuurlike bronne soos groente, suiwelprodukte, vleis, skulpvis en geprosesseerde
• voorbereide kosse soos brood, klaargaar-maaltye, spek, kaas en kitskosse.
In die VSA kom ’n verbysterende 75% van natrium wat verbruik word, uit geprosesseerde en restaurantkos.
Wat is die uitwerking van te veel natrium op die liggaam?
’n Hoë inname van natrium het ’n hele aantal newe-effekte, waaronder nierprobleme en nierstene, maagkanker, osteoporose en hoë bloeddruk, wat ’n hoofoorsaak van kardiovaskulêre siektes is en vir 62% van beroertes en 49% van koronêre hartsiektes verantwoordelik is.
“Volgens die WGO is nie-oordraagbare siektes jaarliks vir die dood van 38 miljoen mense verantwoordelik, waarvan kardiovaskulêre siektes die meerderheid uitmaak (17,5 miljoen).”
Sowat 6,3 miljoen Suid-Afrikaners ly tans aan hoë bloeddruk, en nagenoeg 130 hartaanvalle en 240 beroertes vind daagliks plaas. Maar volgens die Hart- en Beroertestigting SA kan tot 80% van hierdie kardiovaskulêre siektes voorkom word as ons ons lewenstyl verander.
“Verantwoordelike selfsorg gaan nie net daaroor dat jy jouself op die regte tyd met die regte medisyne dokter nie, dit behels dat jy beheer neem oor elke aspek van jou gesondheid. Dit beteken dat jy ernstig oor jou dieet is, jou sout-inname bepaal en dan stappe te neem om jou gewoontes aan te pas as jy die pad byster geraak het.
Gewapen met die regte inligting kan jy pro-aktief te werk gaan om jou sout-inname te verminder en hoë bloeddruk te vermy, met al die gepaardgaande kardiovaskulêre bedreigings.”
Hoe beheer jy jou soutinname?
Hier is vier maniere waarop jy beheer oor jou soutinname kan neem om jou op die pad na goeie kardiovaskulêre gesondheid te plaas:
1. LEES DIE ETIKET Kyk hoeveel sout die produk per 100 g bevat. Meer as 1,5 g sout (0,6 g natrium) is hoog, terwyl 0,3 g sout (0,1 g natrium) laag is. Indien die etiket slegs die natrium-inhoud aandui, vermenigvuldig bloot die syfer met 2,5 om die soutinhoud te bereken.
2. GEBRUIK MINDER SOUT Voeg minder sout aan tafel by jou kos en eerder as om sout te gebruik om jou kos te geur, probeer kruie, speserye, knoffel of suurlemoensap.
3. VERMY GEPROSESSEERDE EN VOORBEREIDE KOS Die volgende kosse het ’n baie hoë soutinhoud en moet spaarsamig gebruik word: sousverdikkers, souse, pakkiesop, kaas, menige ontbytgrane, soutsnoeperye, geprosesseerde kosse en kitskos.
4. EET MEER HEEL VOEDSELSTOWWE Natrium kom natuurlik voor in groente, suiwelprodukte, vleis en skulpvis, maar slegs in klein hoeveelhede. Dit is dus ’n goeie idee om liefs by heel voedselstowwe te hou om natriumvlakke laag te hou.
Begin by die kinders
“Daar is aanduidings dat wat ons as kinders en tieners eet, ’n daadwerklike uitwerking kan hê op hoe ons as volwassenes eet. Dit is daarom noodsaaklik om ons kinders te keer om ’n voorliefde vir sout te ontwikkel. Wanneer kinders hoë vlakke van natrium inneem, kan dit ook hul bloeddruk beïnvloed en hulle geneig maak tot die ontwikkeling van siektes soos hoë bloeddruk, osteoporose, respiratoriese siektes soos asma maagkanker en vraatsug. Dit is met ander woorde noodsaaklik dat ons nie net dophou wat ons eet nie, maar ook wat ons kinders eet,” sê Allison.
Mariska van Aswegen is die verteenwoordiger van Pharma Dynamics. Sy sê daar is ’n proefneming in China gedoen om vas te stel watter invloed kinders op hul gesin se eetgewoontes en dus ook inname van sout het. Die kinders is tydens hul gewone gesondheidsopvoedinglesse oor die gevare van oormatige soutgebruik geleer asook hoe om dit te verminder. Die opdrag was dat hulle die inligting met hul ouers moet deel. Ná een skoolkwartaal van sowat 3½ maande het die soutgebruik in die gesinne met 25% gedaal met ’n aansienlike verlaging in sistoliese bloeddruk by die volwassenes. Na raming sal dié afname in soutgebruik 200 000 beroertes en hartverwante sterfgevalle in China alleen kan voorkom.
“Om kinders gesondheidsbewus te maak, is dus ’n baie doeltreffende manier om die hele gesin se gesondheid te bevorder. Kos met hoë soutvlakke soos skyfies, slaptjips en pasteie word tipies in ’n skoolsnoepie of kafeteria verkoop,” sê Mariska.
Die Hart- en Beroerte-stigting SA, het gevolglik ’n snoepieprogram begin waarvolgens hulle gratis ondersteuning aan skole landwyd bied om hulle te help om gesonder opsies in hul snoepies aan te bied.
Kinders in Suid-Afrika het tans ’n verhoogde kans om as jong volwassenes aan ernstige gesondheidsprobleme soos hartaanvalle, beroertes en nierversaking te ly. Minstens een uit tien kinders in Suid-Afrika is reeds met hipertensie gediagnoseer.
Kinders is ook geneig om hul ouers en oppassers se eetgewoontes na te boots. Navorsing dui daarop dat nagenoeg een uit drie adolessente twee tot drie keer per week kitskos eet.
“Die liefde vir sout is ’n aangeleerde gedrag en kinders moet van jongs af geleer word om nie lief te word vir sout nie en eerder hul kos met speserye of kruie geur,” verduidelik Mariska.
Wetgewing
Mariska van Aswegen is die verteenwoordiger van Pharma Dynamics. Sy sê dat oormatige inname van sout benewens bogenoemde ook tot chroniese sooibrand en suurrefluks bydra. Meer as 1,5 miljoen mense sukkel met die toestand en dit het oor die laaste dekade drasties verhoog. ’n Mens se niere word ook aangetas en saam met hartsiektes word die kanse dat dié siektes fataal kan wees met die verhoogde gebruik van sout met tot 50% verhoog.
“Wêreldwyd bestaan die riglyne dat enige kos met ’n inhoud van meer as 600 mg sout per 100 g as ongesond geag word. In Suid-Afrika oorskry baie produkte dié riglyne. Die goeie nuus is egter dat die regering wetgewing beplan om die hoeveelheid sout in kos te verminder, veral in brood en ander geprosesseerde kossoorte soos margarien, botter, aftrekselblokkies, ontbytpappe en southappies. Dit word as die groot sondaars gereken.
Suid-Afrika is die eerste land wat soutvlakke ernstig opneem as maatstaf om spesifiek kardiovaskulêre verwante sterftes te voorkom. Plaaslike voedselvervaardigers het tot Junie 2016 om aan die riglyne te voldoen.
Bewusmaking
As deel van Pharma Dynamics se deurlopende opvoedingsveldtog om die groeiende hoeveelheid chroniese lewenstylsiektes te voorkom en te verminder, het hulle onder meer die Cooking from the Heart-kookboekreeks bekendgestel wat meer as 100 resepte vir ontbyt, middagete, versnaperings en nageregte bevat met die Hart-en Beroerte-stigting SA se stempel van goedkeuring.
Om die epidemie van lewenstylsiektes wêreldwyd, maar spesifiek in Suid-Afrika, te stuit, verg ’n holistiese benadering van wetgewing, bewusmaking en lewenstylaanpassings.
Meer inligting
• Hart- en Beroerte-stigting by 0860 1 HEART (43278), [email protected], www.saltwatch.co.za, of www.facebook.com, www.twitter.com/SAHeartStroke
• Oor doeltreffende selfsorg www.selfcare247.co.za
• www.cookingfromtheheart.co.za of www.heartrecipes.mobi