Willie Burger kyk na misdaadspanning uit die boonste rakke!
Lesers van misdaadfiksie hou van reekse. Dit is ’n verskynsel wat al uit die 19de eeu kom. Die eerste Sherlock Holmes-verhaal het in 1887 verskyn. Lesers kon maar net nie genoeg van hom kry nie en talle verhale het gevolg. Agatha Christie se speurders, Hercule Poirot en Miss Jane Marple, het ook in boek ná boek hul terugkeer gemaak. Bennie Griessel, uit Deon Meyer se pen, is seker die gewildste Suid-Afrikaanse speurder wat telkens sy verskyning maak.
Speurreekse hou voordele vir die skrywers sowel as die lesers in. Lesers wat van ’n bepaalde speurder hou, kan met sekerheid weer en weer nuwe boeke lees waarin die spesifieke speurder voorkom, want die leser weet al wat om te verwag. Ook vir die skrywer hou dit voordele in, want dit is nie vir die skrywer nodig om van voor af ’n nuwe speurder te skep nie. Dit beteken dat die navorsing gefokus kan word op die skurke en die misdaadwêreld waarin die speurder die sake moet oplos.
In Rudie van Rensburg se Kamikaze maak Kassie Kasselman en Rooi al vir ’n vyfde keer hul terugkeer. Kassie werk vir die polisiediens en het lesers reeds in Slagyster, Kopskoot, Judaskus en Pirana geboei. In Kamikaze is daar weer, soos die leser kan verwag, ’n ingewikkelde klomp verhaallyne wat vervleg en wat Kassie uiteindelik moet ontknoop. (Die goeie nuus is dat daar blykbaar volgende jaar nóg ’n Kassie Kasselman-roman gaan verskyn!) In Kamikaze is die groot skurk besonder boeiend. Die Pion is ’n moordenaar wat ’n mens met koue rillings laat.
Volgens die skrywer het hy navorsing in ou polisiehandleidings gedoen om hierdie skurk te skep. Hy kry dit reg om die skurk nie maar net ’n ysingwekkende, koelbloedige moordenaar te maak nie, maar daar is iets mensliks aan hom. Die Pion se verlede en omstandighede waarin hy grootgeword het, gee ’n mens ook begrip vir hom, al is hy so boos as kan kom. Soos in baie ander Suid-Afrikaanse misdaadfiksie word ook in Kamikaze allerlei verbande met die misdaadvergrype van die apartheidsera gelê, terwyl wapenhandelkorrupsie in die regering en die onwettige handel in medisyne regoor Afrika ook betrek word. Boonop is daar skurke soos dié waarvan ons daagliks in die nuus hoor. Uitsmyters by nagklubs en selfs radikale Islamitiese groepe word betrek. Hierdie roman bied, soos Van Rensburg se vorige romans, ’n boeiende verhaallyn, besonder interessante karakters en ’n verrassende ontknoping.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Deon Meyer en Irma Venter
Nog ’n spannende roman met ’n boeiende agtergrond en besonder interessante intrige, is Irma Venter se Sirkus. In hierdie roman beland Adriane van der Hoon in ’n morele dilemma wanneer sy in die laat 1980’s as 18-jarige deur die vorige regering se veiligheidspolisie genader word om hulle te help om die ANC se befondsing uit die buiteland af te sny. Haar pa was ’n politieke aktivis wat vir die ANC geld gewerf het voordat hy vermoor is. Indien Adriane weier om met die veiligheidspolisie saam te werk, kry sy nie ’n studiebeurs nie en sy sal geen manier hê om vir haar siek ma te sorg nie.
Adriane beland uiteindelik in Berlyn in ’n sirkus, waar sy haar talent om messe te gooi, ontwikkel. Die intrige is kompleks – talle verhaallyne kruis en die karakters kom uit interessante dele van die wêreld. Irma Venter het reeds bewys dat sy een van die gewildste misdaadskrywers in Afrikaans is. Haar vorige roman, Skarlaken, was ’n topverkoper en Skoenlapper, haar eerste roman, is met ’n ATKV-woordveertjie bekroon. Lesers sal ook Skrapnel en Sondebok onthou. Hierdie is twee meesleurende romans deur skrywers wat hul navorsing deeglik doen en wat regtig ’n storie kan vertel. As jy van gehaltespanningsverhale hou, kan jy gerus hiermee begin. En as jy nog nie die twee skrywers se vorige boeke gelees het nie, het jy genoeg leesstof vir die volgende paar maande!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.