ALITA STEENKAMP
In die afgelope paar maande het die jong kunstenaar Irene-Louise van Wyk die geleentheid gekry om haar musiek met mense regoor Suid-Afrika te deel. Sy was deel van die #NoOneCanBeatYouAtBeingYou-toer waarin sy en Leandie du Randt die land platgery het met hul vertoning.
Irene-Louise het gesing en Leandie het haar motiveringspraatjies gedeel met die gehoor. Irene-Louise is ’n nuweling in die Afrikaanse musiekbedryf en sy volg in die voetspore van haar ma Irene, wat in 2009 tragies in ’n motorongeluk dood is, en ’n gewilde kunstenaar was. As deel van haar vertoning sing sy die liedjie “Feel so Unreal” wat sy en Nianell in 2010 as huldeblyk aan haar ma geskryf het.
Irene sê dit het haar telkens verras wanneer sy sien dat daar mense in die gehoor is wat van haar treffers soos “Jy speel ’n game met my”, “Meer as woorde” en “Vergeet van my” woord vir woord saamsing. Irene is baie opgewonde oor die nuus dat sy in September ’n kunstenaarskontrak met Coleske Artists geteken het en daar word reeds gewerk aan die heel eerste enkelsnit wat later vanjaar vrygestel sal word. Dit sal opgevolg word deur ’n vollengte CD in 2017.
Irene-Louise beloof dat sy sal voortbou op die heerlike goedvoelmusiek wat sy tot dusver gemaak het. “Daar is min dinge vir my so lekker as om in die motor te wees en ’n uplifting song begin te speel. Dis heerlik om te voel hoe ’n mens se bui dadelik verbeter. Met die liedjie “Vergeet van my” wat Bouwer Bosch my help skryf het, het ons ’n nuwe klank gevestig en die mense is reg vir daardie klank. Dis so lekker om elke keer op die verhoog te stap en alles te gee. Dit sal nooit verander nie.”
Aan die einde van die jaar gaan sy die voorreg hê om in Las Vegas ’n vertoning van haar rolmodel, Britney Spears by te woon. Dit sal beslis haar jaar op ’n hoogtepunt afsluit, sê Irene-Louise.