’n Klein groepie gaste is onlangs deur KWV na ’n interaktiewe kookdemonstrasie in die kombuis en eetkamer van die KWV sjef Mynhardt Joubert genooi
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die oggend was getiteld “Botaniese Laat-ontbyt” en KWV vier vanjaar sy 100ste verjaardag.
Onder die gaste was die KWV wynmaker, Wim Truter en wingerdboudkundige Marco Ventrella. Met die aankoms by Mynhardt se dakwoonstel in die Paarl, wat ook as sy ateljee en onthaalplek dien, is gaste met KWV se Cruxland gin en tonics verwelkom en daarna is al die geregte met die Classic Collection gepasmaat.
Die gaste is almal in kookspanne opgedeel, wat die voorgeregte vir die oggend moes maak. Elke span moes ’n wyn uit die KWV Classic Collection kies en kon hul gereg pasmaat met: Chenin Blanc, Grenache Blanc, Petit Verdot of Shiraz.
Die kombuis was ’n miernes van bedrywighede met vier verskillende werk- en kookstasies en spanne wat baie innoverend met hul disse was. Gaste het op Twitter en Instagram met @KWVwines #ClassicCollection #BotanicalBrunch #DoLife #KeepItSimple #WinningAtLife as hutsmerke, hul skeppings vertoon en lekker kompeterende gees onder mekaar opgewerk.
Sjef Mynhardt het die hoofgereg, ’n handgemaakte pasta met hoender en ’n suurroomsous, berei en die oggend met ’n reuse pavlova met blomme versier, afgesluit. Die nagereg is met die KWV Classic Collection Cape Tawny en KWV Classic Collection Medium Sherry geniet.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.