Daar is ‘n groter honger in die wêreld na liefde en waardering as na brood
Ds Janine Bevolo- Manders
Ons het nie nodig om mense te leer om te kla, te kritiseer of om selfsugtig te wees nie, dit kom sommer natuurlik. Maar ons het nodig om te leer om ons waardering vir mekaar uit te spreek. Mense het nodig om gewaardeer te word.
Daar is studies oor gesinne gedoen waar ses eienskappe wat vir sterk gesinsbande verantwoordelik is, geïdentifiseer is. Die eerste en belangrikste eienskap was die eienskap van waardering. Daar is gevind dat as gesinslede gereeld hul waardering uitspreek vir wat die ander gesinslede doen en wie hulle is, is die gesinsbande baie sterk.
In ’n soortgelyke studie oor die effek van lof in die werksplek, is daar aangetoon dat die verhouding tussen kritiek en lof in die werksplek 4:1 moet wees voordat werknemers voel daar is balans. Met ander woorde, daar moet vier keer meer lof en waardering as kritiek wees voordat werkers goed voel oor hul werk en die omgewing waarin hulle werk.
Dis nogal verstommende inligting – dit sê vir ons dat as ons gesonde gesinne, ’n gelukkige werksplek of enige ander doeltreffende groep wil hê, ons moet sorg dat die woorde van waardering, lof en dank minstens vier keer meer as dié van kritiek gehoor word.
Moeder Teresa het gesê: Daar is ’n groter honger in die wêreld na liefde en waardering as na brood.
Daarom, wys jou waardering dikwels. Moenie noodwendig vir spesiale geleenthede wag om iemand te prys nie, maar sê dikwels dinge soos: “Dankie, dis ’n goeie idee. Dankie dat ’n mens altyd op jou kan staatmaak.” Spreek ook voor ander jou waardering openlik teenoor ’n persoon uit. Sodoende inspireer jy twee vir die prys van een. Spreek jou waardering skriftelik uit. In die huidige tegnologiese era sal iemand ’n handgeskrewe dankiesênota só waardeer, veral omdat dit ekstra tyd en moeite van jou geverg het.
Te dikwels onderskat ons die krag wat in ’n glimlag lê, ’n vriendelike woord, ’n oor wat luister, ’n opregte kompliment of die kleinste daad wat wys jy gee om – elkeen hiervan het die potensiaal om ’n lewe te verander.
Wanneer jy vir mense sê jy waardeer hulle, kan jy dalk hul dag opvrolik of selfs hul hele lewe verander. Jou gewilligheid om dit in woorde te stel, is al wat nodig is. Hulle sê mense sal vergeet wat jy gesê het en hulle sal selfs vergeet wat jy gedoen het, maar hulle sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.
Laat ons mense gewaardeer voel? Laat ons mense spesiaal en belangrik voel? Laat ons mense voel dat hul bydrae ’n verskil gemaak het en dat dit raakgesien is? Die oomblik wat ons dit doen, verhoog ons ’n persoon se eiewaarde. Hul selfvertroue en selfrespek kry sommer ’n hupstoot. ’n Mens kan nie help om vir iemand wat jou met liefde, respek en waardering behandel, ’n spesiale plek in jou hart te gee nie. Begin sommer dadelik en sê vir iemand hoe baie jy hom of haar waardeer.