Hoop daag nie net op ons voorstoep op nie. Hoop moet ingenooi word. Hoop moet verwelkom word. Hoop moet geoefen word
Ontbreek hoop in jou lewe? In die tye waarin ons leef, is daar baie dinge wat ons hoop steel. In Spreuke 13:12 staan daar “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek …”Sonder hoop kan ons letterlik siek word – hartsiek, sielsiek en geessiek, wat tot mismoedigheid, depressie en hopeloosheid kan lei. Maar waar vind ons dan hoop? Hoe vul ons ons harte en gedagtes met die hoop van Christus? Ons mag miskien met ons verstand weet dat Christus alleen die bron van ons hoop is, maar hoe kry ons ons harte sover om dit ook te glo?
Edward Welch het gesê: “Hoop is ’n vaardigheid wat oefening verg.” Hoop verg oefening, geloof en werk. Hoop is aktief, hoop is nie passief nie. Hoop daag nie net op ons voorstoep op nie. Hoop moet ingenooi word. Hoop moet verwelkom word. Hoop moet geoefen word. Miskien het jy nog nooit daaraan gedink dat ons proaktief kan wees om ons lewe met hoop en vreugde te vul nie. Ek stel graag ’n paar maniere voor oor hoe ons hoop kan “oefen”.
1. Bid gereeld. Bid sonder ophou.
2. Herinner jouself wie jy in Christus is. Jy is sy kind. Jy is gekies. Jy is geliefd. Jy is vergewe. Jy het die hoop van die ewige lewe wat in jou lewe.
3. Gaan buitetoe. Die natuur is terapeuties. Sê net vir die Here dankie vir die skepping wat jy mag geniet en van deel mag wees en die kroon van kan wees.
4. Tel jou seëninge en skryf dit neer. Skep vir jou ’n dankbaarheidsjoernaal en voeg daagliks dinge by.
5. Bring lof. Lof maak die stem van twyfel en mismoedigheid en negatiwiteit stil. Draai die lofmusiek in jou lewe harder. Die mate waarin ons lof kan bring, is die termometer van hoop. As jy die Here loof, het jy hoop.
6. Moenie van die gemeenskap van ander gelowiges wegbly nie. Ons is vir verhoudings gemaak. Laat ander toe om jou te bemoedig en op te beur en op jou beurt kan jy ander weer bemoedig en opbeur. Laat ander toe om vir jou te bid, en wanneer jy vir ander intree, help dit jou weer om jou gedagtes van jou eie probleme af weg te neem.
7. Laat die Woord van God deel van jou lewe word. Lees, oordink en memoriseer dit. Sy Woord gee lewe. Moenie die geskenk wat die Here in sy Woord vir ons gee, afskeep nie. Hierdie liefdesbrief van God af, is die sleutel tot ons hoopvolheid. ’n Anker gee aan ’n skip vastigheid wanneer die golwe daarteen slaan en die wind onstuimig waai. Terwyl die anker hou, is die skip veilig en die kaptein voorsien geen gevaar nie.
In die storms en beproewinge van die lewe voel ’n kind van die Here kalm en veilig terwyl sy/haar hoop in God sterk is. As dit meegee, voel alles verlore. Hoop is die anker van ons siel. Jesus gee nie net hoop nie, Hy ís ons hoop. “Omstandighede mag verander, mense mag verander, maar Jesus sal nooit verander nie” (Hebreërs 13:8). Dis hoekom Jesus alleen ons hoop moet wees.
As Inspirasieskrywer vir Vrouekeur is Janine altyd opsoek na woorde en verhale wat kan inspireer, opbou en hoop gee. Haar hoofbron van inspirasie is die Bybel, so gelukkig is dié bron onuitputlik… Sy raak opgewonde oor mense wat positief en entoesiasties is, wat besef dis ons elkeen se verantwoordelikheid om die wêreld om ons ‘n beter plek te maak. Haar gesin (man – Jimmy, twee kinders – Thomas en Timonè en haar ma, Makkie) is haar veilige hawe.
Haar motto is: “If you can’t do great things; do small things in a great way.”