Die kruis is die bekendste simbool in die wêreld – dis ‘n simbool van vergifnis en verlossing
Die Apple–logo is seker een van die wêreld se bekendste simbole. Wanneer ons dit sien, dink ons dadelik aan iPhones, iPads en baanbrekertegnologie. Wanneer ons Nike se teken sien, dink ons onmiddellik aan hardloop en sport. Wanneer ons Coke se simbool sien, dink ons dadelik aan ‘n lekker glas koue koeldrank op ‘n warm dag.
Coke is wêreldwyd seker die herkenbaarste handelsmerk, maar daar is een simbool wat selfs nog bekender as Coke is: die kruis. Die kruis is die bekendste simbool in die wêreld. Waaraan dink jy wanneer jy die kruis-simbool sien? Vir Christengelowiges is die kruis ‘n simbool van Jesus en van ons geloof, maar dis ook ‘n simbool van vergifnis en verlossing, want dit is wat aan daardie kruis gebeur het – dat ons deur God vergewe word.
In die eerste eeu was die kruis die manier waarop die Romeine mense tereggestel het. Toe Jesus deur Pontius Pilatus ter dood veroordeel is, was die manier van teregstelling die kruis. Ons dink aan Jesus wat baie hoog aan ‘n kruis gehang het, maar dis waarskynliker dat Jesus net ‘n meter of wat van die grond af gehang het. Dit maak meer sin, aangesien kruisigings die manier was waarop die Romeine mense tereggestel het, so hulle wou hê dat die kruis ‘n afskrikmiddel vir enige krimineel moes wees.
Om mense hoog aan ‘n kruis en ver buite die stad te kruisig, sou nie veel van ‘n afskrikmiddel gewees het nie. Hulle wou hê dat mense moes sien en hoor hoe pynlik en angswekkend dit was om aan ‘n kruis te sterf. Die Romeine was nie die enigstes wat daardie dag ‘n baie kragtige boodskap uitgestuur het nie. God het ook. Jesus reageer op hierdie verskrikking wat met Hom gebeur, met die volgende woorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die Here roep ons om naby aan die kruis te kom – Hy sê: “Kom hier, sodat jy kan hoor dat jy vergewe is en sodat jy kan sien hoe lief God jou het en hoe ver God bereid was om te gaan om jou en my te vergewe.” Dit is belangrik vir ons om te verstaan hoe vergifnis deur die kruis na ons kom. Hoewel die Here ons gemaak het om in ‘n verhouding met Hom te staan, het ons sonde daardie verhouding verbreek. Die Bybel sê ons het almal gesondig en dat die gevolge van ons sonde die dood is en dat ons op ons eie niks daaraan kan doen nie.
Maar die storie eindig nie daar nie. God het ons té lief. Hy wou nie hê dat ons verlore moes gaan nie. So 2 000 jaar gelede het God self na die aarde toe gekom, in die persoon van Jesus, om die prys vir ons sonde te betaal. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die prys vir ons sonde betaal. Met ander woorde ons is vergewe. Die prys is betaal, maar selfs dit is nie die einde van die storie nie. Toe Jesus drie dae later uit die dood opstaan, wys Hy ons dat ons nie net vergewe is nie, maar dat God ons tot ‘n nuwe lewe opwek.
Die kruis wys vir ons dat ons vergewe is, maar het jy dit vir jou lewe aanvaar? Het jy dit jou eie gemaak en het jy toegelaat dat die Here se vergifnis nuwe lewe vir jou gee? As jy vandag nodig het om hierdie vergifnis van die Here te beleef, dan het ek goeie nuus vir jou – al wat jy moet doen, is vra daarvoor en dan aanvaar jy wat die Here reeds vir jou gedoen het. So eenvoudig soos dit!
My gebed is dat jy God se vergifnis vir jouself sal toeëien, want dis die boodskap van Goeie Vrydag!
As Inspirasieskrywer vir Vrouekeur is Janine altyd opsoek na woorde en verhale wat kan inspireer, opbou en hoop gee. Haar hoofbron van inspirasie is die Bybel, so gelukkig is dié bron onuitputlik… Sy raak opgewonde oor mense wat positief en entoesiasties is, wat besef dis ons elkeen se verantwoordelikheid om die wêreld om ons ‘n beter plek te maak. Haar gesin (man – Jimmy, twee kinders – Thomas en Timonè en haar ma, Makkie) is haar veilige hawe.
Haar motto is: “If you can’t do great things; do small things in a great way.”