Ons het die wonderlike voorreg om te mag weet wat Jesus se sterwenswoorde was. Ons kry ’n blik op wat aan die einde vir Jesus die belangrikste was
Het jy al ooit gewonder wat jy sou wou hê jou woorde moes wees voor jy jou laaste asem uitblaas? Daar is iets omtrent mense se laaste woorde voor hulle sterf wat ons verbeelding aangryp en wat maak dat ons spesiale betekenis daaraan heg.
Ons wil graag weet wat iemand gesê het voor hy of sy dood is. Baie bekende mense se laaste woorde is vir ons opgeteken, soos dié van Isaac Newton, Da Vinci, Marie Antoinette, Steve Jobs en baie meer. Jy kan maar gaan google. Dis nogal insiggewend as mens die verskillende mense se laaste woorde lees. Deur dit wat hulle sê, kom mens agter wat uiteindelik vir hulle die belangrikste was. Ons het die wonderlike voorreg om te mag weet wat Jesus se sterwenswoorde was. Ons kry ’n blik op wat aan die einde vir Jesus die belangrikste was. Hoewel sewe verskillende frases vir ons opgeteken is, wil ek net op die woorde van die misdadiger wat langs Jesus gehang het, fokus: “Jesus, dink aan my wanneer U in u Koninkryk kom.” En Jesus se reaksie was onmiddellik: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23 vers 43) Wat sê hierdie laaste woorde van Jesus vir ons oor redding en verlossing?
Redding is eenvoudig
Die mens is verblind as hy dink dat dit moeilik is om gered te word. Maar dis duidelik dat dit eenvoudig is. Die man aan die kruis is gered deur Jesus eenvoudig te vra om hom te red. Al wat nodig is vir redding, is berou en geloof. Hy het nie nodig gehad om eers by ’n kerk aan te sluit of eers gedoop te word of enigiets anders nie, net berou en geloof. (Daarmee sê ek nie kerk, doop, ensovoorts is nie belangrik nie. In die konteks van die gedeelte was dit net nie ’n voorwaarde vir sy redding nie.)
Die ‘ergste mens’ kan gered word
Daar kan geen twyfel bestaan dat die man ’n wetsoortreder was nie. Maar die graad van sy oortreding het nie sy kans om gered te word, verander nie. Niemand is te sleg om gered te word nie. Niks in jou verlede kan jou van God se genade en liefde weghou nie.
Dis nooit te laat om jou lewe vir die Here te gee nie
Hoewel dit nie ’n goeie idee is om vir jou sterfbed te wag om hierdie keuse te maak nie, kan ’n persoon net voor hy sy laaste asem uitblaas, na die Here toe draai en vir ewig saam met God wees. Die misdadiger aan die kruis het een laaste kans gehad en hy het dit aangegryp. Jou laaste kans mag miskien vandag wees. Jesus se laaste woorde spreek van vergifnis, liefde, omgee, besorgdheid en redding vir verlore sondaars. Mag ons laaste woorde ook getuig van wat op die einde vir ons die belangrikste was, naamlik ons geliefdes en ons verhoudings met mense. Mag ons laaste woorde nie met spyt en berou gevul wees nie, maar met vreugde en vrede.
As Inspirasieskrywer vir Vrouekeur is Janine altyd opsoek na woorde en verhale wat kan inspireer, opbou en hoop gee. Haar hoofbron van inspirasie is die Bybel, so gelukkig is dié bron onuitputlik… Sy raak opgewonde oor mense wat positief en entoesiasties is, wat besef dis ons elkeen se verantwoordelikheid om die wêreld om ons ‘n beter plek te maak. Haar gesin (man – Jimmy, twee kinders – Thomas en Timonè en haar ma, Makkie) is haar veilige hawe.
Haar motto is: “If you can’t do great things; do small things in a great way.”