Inkleurboeke is nie net vir kinders nie. Dis ‘n goeie manier om stres te verlig en kreatiwiteit te stimuleer.
Tanya O’Connor
Plat op haar maag op die sitkamermat het sy kleintyd gelê en teken. As enigste kind van ’n ma wat aan depressie gely het, was kuns haar medisyne teen die hartseer, onsekerheid en pyn. As sy van die skool af huis toe gekom het, het sy immers nooit geweet of haar ma nog leef nie.
“Dit was vir my moeilik om te verstaan dat sy so afgetakel is deur ‘n siekte wat toe nog nie verstaan of soms aanvaar is nie. Ek was skaam en verward oor my huislike omstandighede. Toe ek in matriek was, het my ma twee keer probeer selfmoord pleeg.” Haar ma het uiteindelik haar eie lewe geneem toe Tanya 22 jaar oud was.
Nou, 30 jaar later, beleef talle mense nou ook die krag van inkleur as terapie teen die lewe se stampe of stote, danksy Tanya O’Connor van Gordonsbaai se gewilde boek Kom ons kleur in. Vir baie is dit bloot ’n lekker tydverdryf. Blaai jy so deur die vrolike sketse, jeuk jou vingers om kryte nader te trek.
Tanya se boek is ’n topverkoper en is reeds vir ’n tweede keer gedruk … Dit terwyl daar gewoonlik nie sommer meer as 2 000 kopieë van ’n Afrikaanse boek gedruk word nie.
In die voorwoord van die boek verduidelik die bekende sielkundige dr ST Potgieter, dat inkleur kinders beplanning leer, watter kleurkryte om waar te gebruik, om te fokus en om detail waar te neem. Hy meen inkleur is ’n uitstekende teenvoeter teen daardie “eenoogmonster”, die TV-stel, wat gesinne deesdae van soveel gesellige samesyn beroof.
Maar moenie dink inkleur is net tot kinders beperk nie. Hy meen volwassenes kan dieselfde voordele uit inkleur put, nie net weens die terapeutiese waarde wat dit inhou nie, maar ook omdat dit ‘n mens help om te ontspan. Deur die proses van inkleur kan ‘n mens sekere emosies losmaak, terwyl dit kreatiwiteit en selfuitdrukking aanwakker, sê hy.
Tanya is ’n hartlike en uitbundige mens, maar haar lewenspad het talle kronkels gehad.
“My eerste man, Tony, met wie ek sewe jaar getroud was, het ná ’n motorfietsongeluk in my arms gesterf. My eerste baba was ná 16 weke van swangerskap weg. Ek het dit besef toe ek sien dat die flikker op die sonarskerm opgehou klop het.”
Toe ontmoet sy haar Ier Padraig by ’n braai. Hy’s ’n algehele introvert, terwyl sy ’n “ekstrovert verby” is, maar hy laat haar weer kleur in die lewe beleef. Hulle is nou agt jaar gelukkig getroud.
“Ons baklei nooit – ons praat dinge uit. Hy aanvaar my net soos ek is en hy wou my nog nooit verander nie.”
Klein Rory (amper vier) is gebore toe sy reeds in haar veertigerjare was en nágeboortelike depressie het haar byna laat knak. Sy het nie lus gevoel vir die pille wat sy daarvoor moes sluk nie, al het sy besef dit sal haar help.
“My lyf is erg deur die swangerskap geraak, my voete het twee groottes groter geword en ek kon net nie die veranderinge op my ouderdom hanteer nie. Ek was party oggende so moeg dat ek nie eers die trappe na die boonste verdieping van my huis kon uitklim nie.”
Die depressie was so erg dat dit haar gedryf het om haar eerste tatoeëermerk met haar man en kind se name op haar arm te kry. “My redenasie was dat ek hulle dan nie kan verlaat nie.”
Toe koop sy haar eerste A4-sketsboek en begin teken. Dit was haar redding. Sy het haar eie prentjies begin inkleur en besef dis iets wat jy enige tyd kan doen – by jou etenstafel, in ’n koffiewinkel, selfs by die werk. Die hele gesin kan saam inkleur. Só het Kom ons kleur in ontstaan.
Sy neem steeds medikasie teen depressie en besef dat die menopouse besig is om kop uit te steek, maar haar man verstaan hierdie dinge en is baie ondersteunend, vertel sy dankbaar.
Tanya is beslis nie jou gewone boeremeisie nie. Sy kleur haar hare omtrent elke week ’n ander kleur, spog deesdae met 15 tatoeëermerke en klim graag op ’n brullende ysterperd. Hierdie aweregse streep het reeds na vore gekom toe haar kunsjuffrou haar op skool vertel het ’n aalwyn is groen en groen is die kleur wat sy ’n aalwyn sal verf. Nooit gesien nie, was haar parmantige houding. Háár aalwyne is pienk en wynrooi met goue dorinkies.
Wat is mense se reaksie as hulle van haar inkleurboek vir volwassenes hoor? Dink sommiges nie dis ’n lawwe foefie nie?
Tanya antwoord: “Ongeloof. Maar dan wil hulle meer weet, so asof dit nie moontlik kan wees dat volwassenes inkleur nie. As hulle eers die boek sien, wil hulle dadelik inkleur.”
Sy vertel hoe die TV-persoonlikheid Elana Afrika net aanhou inkleur het nadat sy vir haar ’n prentjie op die TV-program Expresso gaan teken het.
“Sy het die skets opgeraap en sit en inkleur terwyl sy met my gepraat het. Toe bestel sy sommer tien boeke vir vriende.”
Het Tanya hierdie ontsaglike sukses verwag?
“Nee, glad nie. Ek het dit vir die lekkerte geteken en nie met goeie tantieme in gedagte nie, hoewel dit natuurlik baie welkom is.”
Sy is lief vir houtskool en potlood, maar die meeste van haar werk is opdragwerk. “Ek teken steeds boeke, want dit is my behoud en ek moet binnekort my tweede inkleurboek met sketse en teks by my uitgewer inhandig.”
Die O’ Connor-gesin woon by haar skoonma, Elsa, op Gordonsbaai, in die huis wat Padriag se pa 46 jaar gelede gebou het. “Ek is baie lief vir my skoonma en sy is wonderlik ondersteunend met Rory. Sy is werklik my tweede ma.”
Sy is versot op Rory en oor moederskap in jou middeljare, sê Tanya sy is bly dat sy ’n ouer ma is. “Ek het alles gedoen wat ek wou doen en nou geniet ek my kind. Ons is baie na aan mekaar en speel saam. Hy is dol daaroor om saam met sy ma in haar 4X4 te klim, of om agter op die bakkie te speel.”
Hoe sal hierdie kleurryke vrou haarself beskryf?
Sy lag.
“Ek is ’n Selfina. My pa het my so genoem omdat ek alles self wil doen. Ek is avontuurlustig en rustig (min dinge krap my deesdae om en ek besluit vir wie ek my emosies gaan gee). Ek is waaghalsig en glo in die gesegde: ‘Just do it.’ En ek is kreatief. Ek kan met ’n tjop, ’n ui, ’n tamatie en ’n pakkie spaghetti kos maak.”
Meer inligting
• Die boek word deur Naledi Boeke uitgegee. Besoek www.naledibooks.co.za vir meer inligting
* Hierdie artikel het oorspronklik in Vrouekeur van 15 Augustus 2014 verskyn
SOURCES
Jac Kritzinger