Die inentingsdebat het weer opgevlam ná die jongste maselsuitbrake oorsee. Jackie Pienaar-Brink doen verslag in ons 24 April-uitgawe en verskaf hier nog inligting oor masels.
Jackie Pienaar-Brink
Die meeste van onderstaande inligting is voorsien deur dr Jantjie Taljaard, infeksiespesialis van die Tygerberg-hospitaal, Bellville.
Masels
Simptome
• Die inkubasietydperk is tussen 10 en 14 dae en duur gewoonlik langer in volwassenes.
• Die siekte kan aanvanklik as ’n kwaai lugweginfeksie voordoen. Die vroeë simptome is gewoonlik koors, rooi, waterige oë, ’n hoes en ’n loopneus. Net voordat die rooi uitslag verskyn, kan klein wit kolletjies met ’n blougrys kern in die mond voorkom.
• Ná drie tot vyf dae kom ’n rooi veluitslag voor wat op die gesig begin en daarna oor die liggaam versprei. Die laaste dele wat aangetas word, is die arms en bene, insluitend die handpalms en voetsole. Die uitslag duur gewoonlik vyf dae en die pasiënt is gewoonlik op dag twee en drie van die veluitslag die siekste.
• Masels is aansteeklik van nagenoeg vier dae voordat die veluitslag begin tot vier dae nadat dit begin het.
Maselsinenting in Suid-Afrika
• In Suid-Afrika is inentings gratis by staatsinstellings beskikbaar.
• By staatsinstellings is die eerste inenting op nege maande en die tweede inenting op 18 maande.
• Die gekombineerde MMR-entstof (teen masels, pampoentjies en Duitse masels) word net in private praktyk gebruik. Die baba kry steeds op nege maande die eerste maselsinenting. MMR word dan op 15 maande en weer op vyf jaar toegedien.
• Die inentings is ewe doeltreffend in albei bogenoemde vorms.
• Die eerste inenting is gemiddeld 85%-90% effektief. Daarom is daar die nodigheid vir die tweede inenting. Daarna kan ’n mens lewenslange immuniteit verwag (93%-99%).
Effektiwiteit en komplikasies
• Geen inenting is egter 100% effektief nie. Daarom is dit nodig om soveel mense moontlik te immuniseer (95%) om kudde-immuniteit te verseker. Sodoende sal die mense wat vatbaar bly, ook beskerm word.
• ’n Swak immuunrespons op die maselsinentings en kwynende immuniteit is by uitstek die uitsonderings. Indien daar kwynende immuniteit oor tyd is, kry ’n mens gewoonlik ’n geringe vorm van die siekte; komplikasies is dan ongewoon. Mens kan jou immuniteit laat toets deur te toets vir antiliggame teen masels.
Hoekom moet mens by die inentingskedule hou?
Dit is uitgewerk om die beste immuniteit in die kortste moontlike tyd te ontwikkel maar ook om prakties te wees. Dit is nooit te laat om op te vang nie.
Wie moet nié die maselsentstof ontvang nie?
• Mense met ’n vorige lewensbedreigende allergiese reaksie op die maselsinenting.
• Swanger vroue. Vroue moet ook nie binne vier weke na die inenting swanger raak nie.
• Mense met erg verswakte immuunstelsels weens onder meer leukemie, limfoom en sekere ander kankers.
• Mense wat chemoterapie, bestraling of hoë dosisse kortisoon ontvang.
Hoe werk inenting?
As die liggaam aan ’n onbekende stof blootgestel word, reageer die immuunstelsel deur teenliggaampies te vervaardig om die indringer te beveg. ’n Lae koors ná inenting is in werklikheid ‘n teken dat die immuunstelsel geaktiveer word om immuniteit te ontwikkel.
In ’n neutedop
• Een persoon met masels kan sowat 18 ander mense aansteek.
• Die meeste maselsverwante sterftes is weens komplikasies soos ernstige longontsteking.
• Masels word normaalweg deur die lug versprei, soos wanneer iemand hoes of nies. Dit kan ook deur nabye persoonlike kontak of direkte kontak met aangetaste neus- of keelafskeidings oorgedra word. Die virus bly tot twee uur lank aktief in die lug of op aangetaste oppervlaktes.
• Masels kom veral in kinders onder die ouderdom van vyf of volwassenes ouer as twintig voor.
• Masels is ’n siekte wat net in die mens voorkom.
• In bevolkings met hoë wanvoedingsvlakke en onvoldoende gesondheidsorg kan soveel as 10% van alle maselsgevalle tot die dood lei.