Die bekende Bombay Brasserie restaurant in Kaapstad se Taj Hotel, het pas ’n nuwe baadjie gekry
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts en Jan Ras
Taj is Indian Hotels Company Limited’s (IHCL) se ikoniese hotelgroep en in 1903 gestig. Die groep het luukse hotelle in Indië, Noord-Amerika, Brittanje, die Midde Ooste, Malaysië, Sri Lanka, die Maldives, Bhutan en Nepal.
Die dekor, musiek en hemelse reuke van Indiese speserye en kruie voer jou vinnig weg na verre horisonne. Die brasserie is na die kosmopolitaanse Indiese stad vernoem en bedien Indiese kos, met ’n sterk Suid-Afrikaanse invloed.
Die spyskaart se gewildste disse wat gunstelinge onder gaste was, is steeds daar, maar David Tilly, uitvoerende sjef, het agt nuwe disse bygevoeg wat Baingan Bharta (klei-oond gerookte eiervrug met gekrummelde feta) en Tikka Masala (geroosterde Tikka, fenegriek, uie en tamatiesous) insluit.
David het aan gaste vertel dat die opwindendste toevoeging tot die spyskaart die klein bordjie-disse is, sodat gaste iets van alles kan proe en dit met ’n interessante reeks skemerkelkies kan pasmaat. “Dis die beste manier om Indiese straatkos te geniet, maar in die weelde van ’n luukse hotel,” het hy vertel. Hy het bygevoeg dat hierdie ’n unieke ervaring bied, wat boonop Kaapse geure ook insluit.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.