Kranige whiskyliefhebbers is in hul element met die besoek aan Suid-Afrika deur die distilleerder van Paul John Whisky
Deur Clifford Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Michael da Souza se kort toer volg enkele weke nadat een van dié maatskappy se produkte deur die Suid-Afrikaanse Michelangelo International Wine and Spirits Awards (MIWASA) as beste whisky aangewys is.
Paul John Whisky is ook een van die min Indiese enkelmout produsente, wat in Suid-Afrika beskikbaar is en ding mee in ’n kategorie wat deur Skotse produkte domineer word. Die Paul John Whisky-stokery is in 2006 in die staat van Goa op die been gebring en lewer aan sowat 45 lande regoor die wêreld.
Dit is die eerste keer dat Michael Suid-Afrika besoek en hy het onder leiding van die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger, Hector McBeth, ’n reeks proe- en bekendstellingsgeleenthede vir entoesiaste in Kaapstad aangebied.
By die bekende Bascule whiskykroeg in die V&A Waterfront, het Michael vyf van sy whiskies voorgesit. Drie is nog nie amptelik gebottel nie, maar is vir die Suid-Afrikaanse mark ontwikkel. Afhangende van terugvoer, sal die gewildste een uiteindelik tot by plaaslike winkelrakke. vorder
Michael het vertel dat alhoewel die Paul John Whisky-stokery redelik jonk is, is die span al drie dekades by alkoholproduksie betrokke. Paul John whiskies word van bestanddele wat 100% van Indiese oorsprong is, gemaak. Buiten uitstekende kwaliteit water wat in Goa beskikbaar is, is die staat ook die belastingvriendelikste in Indië.
Nog ’n voordeel wat die Indiese whiskymakers geniet, is die klimaat: een van die grootste invloede op whisky wat tydens die verouderingstydperk ’n rol speel. Die tropiese klimaat bespoedig geur hout-ekstraksie tot soveel as vier keer vinniger as dié in Skotland.
Michael besoek ook Durban en Johannesburg – waar die grootste whiskymark is – voor hy vroeg in November huiswaarts keer.