Die lewenskostes word so hoog dat dit in baie huishoudings maar swaar gaan. Klein dingetjies kan egter ’n groot verskil maak, skryf Ansja Ferreira in ons 15 Augustus-uitgawe. Hier’s ‘n paar nuttige spaarwenke.
Ansja Ferreira
Hierdie algemene foute kan verbruikers duur te staan kom.
• Is jou kinders werklik opgewasse om al die stimuli in ’n besige winkelsentrum te kan hanteer? Bemarkingsveldtogte in winkels fokus dikwels op kinders en maak onder meer van produkplasing gebruik. Loop ook lig vir artikels wat naby die betaalpunte geplaas word. In bemarking, is die gebruik van sielkundige tegnieke baie omstrede.
• Mense wil dikwels kostes bespaar en stel dan sommer self hul testament op. Foute sluip maklik in en baie van hierdie testamente voldoen nie aan die wetlike vereistes nie en is dus ongeldig of onuitvoerbaar. ’n Kenner soos ’n geoktrooieerde rekenmeester of prokureur is op hoogte van alle wetlike vereistes en kan vir jou waardevolle raad gee.
• Belangrike dokumente moet veilig bewaar word. Dit het al dikwels gebeur dat belangrike dokumente soos testamente nie opgespoor kon word ná ’n persoon se dood nie, wat verreikende gevolge vir die nagelate familie kan hê.
• Baie vroue kom eers ná ’n egskeiding, die dood of die ernstige siekte van ’n eggenoot agter dat hulle nie weet hoe om hul geldsake te hanteer nie. Hulle het moontlik nooit geleer hoe om finansiële aspekte te hanteer nie. Dit kan katastrofiese gevolge inhou. Vroue behoort reeds van vroeg af geleer te word om hul eie geldsake te hanteer.
• Moenie onnodige uitgawes aangaan deur met ander te probeer meeding nie. Deur met die bure, vriende en familie by te hou, kan jy dalk binnekort sukkel om kop bo water te hou en is skuldprobleme moontlik jou voorland. Is jou eie trots dalk jou grootste finansiële vyand?
• Finansiële ontrouheid in jou huwelik of verhouding, soos geheime geld, geheime skuld en om finansiële inligting van jou lewensmaat te weerhou. Tesame met die geldelike stremming wat met finansiële ontrouheid gepaardgaan, word ’n verlies aan intimiteit en vertroue in die verhouding ook hiermee geassosieer.
• Jy doen nie jou huiswerk nie. Maak seker dat jy rondkyk vir die beste aanbod op huishoudelike versekering, selfoonpakkette, internetdienste en selfs gimnasiumlidmaatskap. Dit is so maklik om by die eerste beste een aan te sluit omdat jy nie die tyd het of moeite wil doen om rond te kyk na die verskillende opsies nie. Baie kontrakte is lank en jy sal lank moet wag voordat jy dit kan verander.
• Jy bestee te veel geld op geskenke vir geliefdes en vriende. Moenie onnodige skuld aangaan om geskenke te koop nie. Beskou dit as ‘n projek om dié jaar jou eie geskenke te maak. Jy kan ook jou dienste as ’n geskenk aanbied. Maak jou eie geskenkbewyse vir baba-oppas, karwas of ’n voetmassering vir jou geliefde.