Jy is reeds stukkend en dan stel iemand skielik in jou belang en jy dink daaraan om jou ontroue maat in gelyke munt te betaal …
“My man was my eerste liefde. Ek sou enigiets vir hom doen. Hy het my egter al baie teleurgestel omdat hy al ’n paar keer affairs aangeknoop het. Ek het hom ná die laaste een vergewe en ons het besluit om weer te probeer, maar ’n kollega het intussen in my begin belangstel,” vertel Lindie (35) van die Oos-Kaap.
“Ons drink elke dag koffie saam en ek voel weer verlief. Ek is egter steeds lief vir my man – al het hy my verneuk. Dinge het egter al so uitgerafel … My kollega laat my goed voel en op ’n emosionele vlak vervul hy in my behoeftes. Moet ek maak soos my man gemaak het?”
Hoewel Lindie nog nie haar verhouding met haar kollega na ’n fisieke vlak geneem het nie, is daar beslis gevaartekens, sê kenners.
Paul Bushell is ’n sielkundige van Kwazulu-Natal. Hy sê die stand van sake in Lindie se huweliksverhouding het veroorsaak dat sy verwerp, ongeliefd en waardeloos voel. “Die gevoel van minderwaardigheid heers nie net in haar verhouding met haar man nie, maar ook in haarself.
“Liefde is ’n ingewikkelde emosie en jy ervaar verskillende intensiteitsvlakke van liefde vir mense wat oor jou lewenspad kom.”
Volgens Guy Winch, skrywer van die boek The Squeeky Wheel, is dit ’n skokkende en emosioneel verwoestende gebeurtenis as ’n mens uitvind dat jou maat ’n buite-egtelike verhouding het. “Dit kan jou hele wêreld onderstebo draai en sal intense gevoelens van woede, verraad en verwerping in jou wakker maak.”
Hy sê dis algemeen dat ’n mens vergelding soek, soos in Lindie se geval waar sy haarself toegelaat het om ’n hegte verbintenis met ’n kollega te ontwikkel.
’n Affair van jou eie sal beslis nie jou huwelik verbeter nie; inteendeel,” sê hy. “Die doel van die meeste affairs wat uit vergelding ontstaan, is om wraak te neem. Sonder dat jy daarvan bewus is, wil jy aan jou maat doen wat hy aan jou gedoen het. Jy wil hê hy moet dieselfde seer ervaar sodat hy moontlik kan verstaan hoe seer hy jou gemaak het.
“Die uitkoms van die vergelding sal egter dikwels die teenoorgestelde reaksie ontlok as waarvoor jy gehoop het.
“Jou maat se ontrou het reeds die vertroue in jul verhouding gebreek. Jou eie affair sal nooit dieselfde impak hê nie, want jy kan nie iets breek wat reeds gebreek is nie. En jou verhouding met jou maat is reeds gebreek.”
Die situasie waarin Lindie haarself bevind, is beslis plofbaar. Maar hoe moet sy dit ontlont?
Volgens ’n pastorale berader van Groot Brakrivier, wat verkies om anoniem te bly, is ‘n kwessie soos dié ingewikkeld en kan dit uit verskillende hoeke benader word.
“Lindie sal eerstens baie seker moet maak of sy regtig lief is vir haar kollega of tree sy so op omdat sy seergekry het en haar menswaardigheid geskaad is?”
Hy stel voor sy gesels alleen met ’n berader. Sodoende kan sy selfondersoek doen om vas te stel wat haar werklike behoeftes is en wat haar hanteringsvaardighede vir die toekoms is.
“Sy en die berader moet haar emosionele pyn vasstel en die vrou sal só ook insig in haar eie gedrag en keuses vir die toekoms kry.”
Volgens die berader het Lindie moontlik haar grense verskuif omdat haar man ander verhoudings gehad het. “Die meeste mense verskuif hul grense, maar wanneer grense in die huwelik geskuif word, kry mense seer.”
Dis belangrik om te weet dat die verliefheidsfase in enige verhouding verbygaan. “Intimiteit kan egter op verskillende ander vlakke beleef word.”
Hy stel voor die paartjie sien ook saam ’n terapeut om hulle by te staan. “Hulle moet saam besluit hoe hulle hul huwelik vorentoe sien. As hulle deur ’n proses van gesamentlike ontlonting gegaan het, kan hulle begelei word om die keuse te maak of hulle hul huwelik wil red of nie.”
Hy sou self só ’n paartjie wou begelei om ’n pad van vergifnis te stap, “maar dit moet nie op grond van skuld gedryf word nie en eerder om hul liefde vir mekaar en troubeginsels te herontdek”. Lindie moet dus nie skuldig voel oor haar worsteling met vergifnis of omdat sy gevoelens van verliefdheid vir haar kollega koester nie. “As die egpaar egter voortgaan om vernietigend in hul huwelik op te tree, sou ek voorstel hulle word op ’n pad van herstel begelei, waar hulle ’n egskeiding kry, maar mekaar respekteer en ’n vol lewe gun.” Volgens die pastorale berader is ontrouheid in die eerste plek nie ’n liefdesprobleem nie, maar ’n behoefteprobleem. “Baie mense val weer in dieselfde strik as daar nie ’n duidelike behoeftebepaling in die huwelik gedoen is nie.”
Die pad vorentoe
Wat kan die gevolge wees sou Lindie haar gevoelens vir haar kollega uitdruk en die verhouding na ’n fisieke vlak neem?
“Dit sal sake in haar huwelik net vererger,” sê Paul. “Sy sal waarskynlik gevoelens van skuld en skaamte ervaar sodra sy dit gedoen het. Dit sal beslis langer in haar gemoed bly as ’n gevoel van wraak teenoor haar man.”
Volgens Paul sal dit ook problematies vir haar verhouding met haar kollega wees. “Verhoudings wat só begin, skep dikwels later ’n probleem met vertroue in mekaar. As die verbintenis tussen haar en die man eg is, sal dit lank genoeg hou tot sy besluit het of sy haar man gaan los of nie. Daarna kan sy die verhouding verder vat wanneer die tyd reg is.”
’n Huweliksberader van Somerset-Wes, Philip du Toit, sê die konstante verwerping deur haar man het Lindie in ’n slagoffer verander wat vir haar man se aanvaarding probeer veg. “As sy sterk genoeg was of dadelik vir terapie gegaan het, sou sy besef het sy verdien beter. Sy sou geweet het sy hoef haar nie hieraan bloot te stel nie en dat niks haar man die regverdiging gegee het om ander verhoudings te hê nie.”
Volgens Philip moet die vraag liewer gevra word: Hoekom is sy steeds in hierdie wanfunksionele verhouding?
“Nou kom daar ’n man in haar lewe wat haar uiteindelik die aandag gee wat sy verdien en wat haar spesiaal laat voel!”
In praktyk, sê Philip, sal hy Lindie van hierdie feit bewus maak en dat sy die positiewe uit die situasie moet begin haal. “Ek sal haar laat besef dat dít is wat sy verdien – om gekoester te word.”
Volgens hom gaan dit haar beslis nie help om net haar man in eie munt terug te betaal nie. “Twee maal verkeerd is nie reg nie.” Die kanse dat sy ná fisieke verbintenis emosioneel in twee geskeur gaan voel, is groot. Philip stel voor sy hanteer dit verder só:
• Sy en haar man moet gesels en sy moet hom oor sy aanhoudende ontrouheid konfronteer. ’n Ultimatum moet aan hom gestel word dat sy onmiddelik sal skei as hy hom óóit weer tot buite-egtelike verhoudings wend.
• Sy moet op volle deursigtigheid aandring om weer vertroue te bou. “Hy moet bereid wees om haar volle toegang tot al sy kommunikasiemediums te gee. Dit sluit sy wagwoorde vir sy foon, sy e-pos, sy Facebook-profiel, ensovoorts in.”
“Dit is al manier hoe sy weer haar vertroue in hom gaan terugkry. Sy moet sien dat daar niemand anders in sy lewe is nie.”
Philip sê die man se reaksie op hierdie versoek sal dadelik wys of sy hom kan vertrou of nie. “As hy hieraan gehoor gee en sy volle samewerking gee in ’n poging om die skade te help herstel, moet sy haarself vra of sy hom sal kan vergewe, hom weer sal kan vertrou en die verlede heeltemal sal vergeet.”
Hy sê Lindie se man sal saam met haar met huweliksterapie moet begin. “As haar huwelik herstel word, moet sy alle kontak met haar kollega stopsit.”
Maar hoe gemaak as haar man nie bereid is om aan haar eise te voldoen nie?
“As haar man nie sy weë verander en haar eerste stel nie, sal sy ernstig ’n egskeiding moet oorweeg.”
Wanneer dit afgehandel is, sy haar seer verwerk het en sy sterk genoeg is om weer geluk in háárself te vind, kan sy begin om ’n vriendskap met iemand anders te ontwikkel.”