Google SA het vandeesweek ‘n funksie in Kaapstad gehou waar die media, handelsmerkbestuurders en YouTube “skeppers” mekaar kon ontmoet en oor samewerking gesels.
Maryke Roberts
Daar is meer glanspersoonlikhede in ons land as dié wat ons op sepies, die verhoog of in fliekteates sien: Die YouTube-sterre wat met soveel as 220 000 intekenare spog, wat van skoonheidswenke, lesse oor hoe om jou eie webwerf te bou, tot hoe om nie by die skool geboelie te word nie, op hul eie programme aanspreek. En boonop word hulle betaal vir hierdie dienste wat hulle lewer.
“YouTube skepper-geleenthede bring al die belanghebbendes bymekaar om plaaslike inhoud-skeppers te vier en ook om handelsmerkbestuurders en die media in te lig oor die mag van video en die geweldige internasionale ondersteuning wat YouTube geniet,” sê Google SA se hoof van kommunikasie en publieke aangeleenthede, Mich Atagana.
YouTube het verlede jaar tien jaar oud geword en is die videobron wat die meeste gekyk word. Ongeveer 400 ure video word elke minuut op YouTube opgelaai.
Gaste kon verskeie YouTube-sterre ontmoet, waaronder Grant Hinds, Anne Hirsch, Quentin Watt, Theodora Lee, die skreeusnaakse boetie en sussie, Maya & Kahlil, Simply Refilwe, Lindi (van Lindi and Koodzi), die snaakse Mark Fitzgibbons, DJ Arch Jnr (die jongste wenner ooit van SA’s Got Talent) en die sosiale kommentator, Sibu Mpanza.
Google inhoud-vennootskaphoof vir YouTube sub-Sahara Afrika, Teju Ajani, sê YouTube is geaktiveer in ag Afrikalande – Suid-Afrika, Nigerië, Kenia, Uganda, Ghana, Zimbabwe, Tanzanië en Senegal. In lande waar YouTube geaktiveer is, kan inhoudvervaardigers kies dat Google advertensies op hul kanale kan plaas en hierdeur ‘n inkomste verdien. Glanspersoonlikheid onderhoudsvoerder, Anne Hirsch, het gesê dat sy nie “genoeg geld maak nie”, het ‘n ander vervaardiger, Quentin Watt, gesê die helfte van sy maandelikse inkomste is afkomstig van die programlesse wat hy op sy kanaal aanbied.
Grant Hinds sê YouTube bied ‘n geleentheid vir vervaardigers om saam te werk, geld te verdien en kykers op te voed oor die nuwe inhoud wat beskikbaar is. ‘n paar van die inhoud-vervaardigers teenwoordig, het van hul stories gedeel, waar hulle met bekende handelsmerke saamwerk om geloofwaardige, goedkoper inhoud te skep, wat nie tot een tydskrif, kanaal of radiostasie beperk is nie, maar die onbeperkte publisiteit van YouTube bied.
Enver Groenewald, mediadirekteur Unilever Afrika het gesê dat handelsmerke nie met YouTube kan kompeteer nie. “Ons moet uit ons gemaksone skuif in ‘n sone van ongemak in. Die wêreld het verander en gaan nooit weer wees soos dit voorheen was nie. Aanvaar dit,” het hy gesê.
Enver Groenewald, mediadirekteur Unilever Afrika en Chris Rawlinson, hoof van Innovasie by Ogilvy & Mather.
Grant Hinds wat speletjies speel op YouTube (en baie intekenare het), gesels met die media oor sy suksesresep.
YouTube-sterre is in die agterste ry, Lindi (van Lindi and Koodzi), Mark Fitzgibbon, Grant Hinds, Quentin Watt, Theodora Lee, Sibu Mpanza en in die middel ry is Kahlil & Maya, met Teju Ajani heel voor.
SOURCES
Maryke Roberts