Daar is baie dinge wat met jou oë kan skeefloop, daarom sal dit help as jy weet wat om daaraan te doen
CHRISTA SWANEPOEL
Ooginfeksies en ander –probleme is algemeen en kom enigeen oor. Daar is baie oorsake, maar as jy weet wat dit is en dit betyds behandel, behoort dit nie ’n negatiewe invloed op jou sig te hê nie.
Hier is ’n paar van die algemeenste oogprobleme
1 KONJUKTIVITIS of pienkoog is wanneer die deurskynende lagie wat die wit deel van die oog bedek (die sklera) onsteek raak. Dit raak rooi en opgeswel en produseer ’n waterige of etterbevattende afskeiding. Dit veroorsaak ongemak eerder as pyn en affekteer gewoonlik nie die visie nie. Dit kan net in een oog of in albei voorkom, of in een oog begin en na die ander een versprei.
Oorsake Konjunktivitis kan deur ’n virus, bakterie of fungus veroorsaak word, asook allergieë, of fisieke en chemiese irritasie. Simptome sluit rooiheid, gejeuk, tranerige oë, ligsensitiwiteit en ’n krapperigheid in. Dit klaar gewoonlik binne ’n paar dae op.
Behandeling Antihistamiendruppels kan die jeukerigheid help opklaar en antibakteriese salf kan met die ongemak help. As die toestand egter voortduur, is dit raadsaam om jou optometris te spreek.
2 BLEFARITIS is inflammasie van die ooglede. Die ooglede bedek en beskerm jou oë.
Simptome As jy blefaritis het, sal jou oë krapperig, rooi en droog wees met effens geswolle, rooi en geïrriteerde ooglede. Daar is verskillende soorte blefaritis: plaveiselblefaritis word dikwels met skilfers op die kopvel geassosieer en daar is ophoping van wit skubbe tussen die wimpers. Chroniese ulseratiewe blefaritis word gekenmerk deur geel korse oor ulkusse op die ooglidrande. Die wimpers koek aan mekaar vas en neig om uit te val of te verwring. Dit kan selfs jou sig belemmer. Allergiese blefaritis kan voorkom in respons op genees- of skoonheidsmiddels wat op die oog of ooglid gebruik is.
Oorsake Blefaritis het verskeie oorsake. Dit kan deur ’n bakteriese infeksie, wanfunksie van die oliekliere, skilfers en selfs myte en luise veroorsaak word.
Behandeling Dit word die beste met ’n kombinasie van kunsmatige trane, antibakteriese salf en goeie higiëne behandel. Spreek jou optometris vir behoorlike behandeling of as jy gereeld daarmee sukkel.
3 KERATITIS is die inflammasie van die helder laag van die oog (die kornea) wat die gekleurde deel van die oog (die iris) bedek.
Simptome Die oog traan en is gewoonlik seer en jy kan probleme met sig ondervind en ligsensitief wees. Seertjies of seerplekke op die kornea kan voorkom en as dit nie behandel word nie, kan die kornea wit word.
Oorsake Keratitis kan te wyte wees aan fisiese of chemiese agense (skaafplekke, blootstelling aan stof, dampe, ultravioletlig, water wat met bakterie of fungus besmet is, ensovoorts) of aan infeksie. Dit word meestal deur virusse soos die herpesvirus veroorsaak (herpes simpleks en herpes zoster) asook die virus wat chlamydia veroorsaak. Mense wat kontaklense dra kan ook keratitis ontwikkel as die lense nie behoorlik skoongemaak word nie of as hulle met hul kontaklense swem.
Behandeling As jy vermoed dat jy keratitis het, moet jy onmiddellik jou oogdokter spreek. As dit nie behoorlik behandel word nie, kan dit tot permanente sigverlies lei.
4 KARKATJIE (ook bekend as eksterne of interne hordeolum) is ’n opgehewe rooi knoppie op of onder die ooglid. Die karkatjie is ’n akute inflammasie van ’n ooghaar wat deur infeksie veroorsaak is.
Simptome Die klier word hard en gevoelig en die ooglid word rooi en jeukerig en ’n sist met etter ontwikkel in die middel daarvan wat dit pynlik en ongemaklik maak. Karkatjies word behandel deur hulle in warm water af te spoel of deur die betrokke ooghaar te verwyder. Soortgelyk aan die karkatjie is die chalasion of meiboom-sist, ’n geswolle talgklier in die ooglid en nie op die rand van die ooglid soos die karkatjie nie. Die klier verander in ’n jellieagtige massa wat die ooglid misvorm.
Oorsake Mense wat chronies blefaritis kry, is meer geneig om karkatjies te ontwikkel. Ooggrimering wat nie behoorlik verwyder word nie, kan ook die toestand tot gevolg hê.
Behandeling ’n Karkatjie lyk en voel ongemaklik, maar is gewoonlik skadeloos en klaar ná ’n paar dae op met antibakteriese oogsalf en kunsmatige trane.
Ernstiger oogsiektes
Daar is ongelukkig ook ernstiger oogsiektes. Ons kyk na twee hiervan.
1 GLOUKOOM Dit is een van die algemeenste oorsake van blindheid en die kanse om dit te ontwikkel verhoog met ouderdom.
Oorsake Jy ontwikkel gloukoom as daar abnormaal baie vloeistof in die oogbal opbou en druk veroorsaak en die optiese senuwee agterin die oog beskadig word. Dit word primêre gloukoom genoem. Daar is twee soorte gloukoom: akute kongestiewe gloukoom, waar ’n skielike styging in druk met pyn en wasigheid gepaardgaan en selde by mense onder 50 voorkom en chroniese enkelvoudige gloukoom waar die druk geleidelik toeneem. Dit is pynloos en die sigverlies geskied byna ongemerk en kom selde by mense onder 40 voor. Sekondêre gloukoom kom voor wanneer ’n ander oogkwaal die normale sirkulasie van die vog in die oog belemmer en die druk laat styg.
Simptome Die simptome van chroniese gloukoom is dat die perfieriese sig eerste aangetas word en die verandering daarom nie dadelik sigbaar is nie. Dit vererger totdat die sentrale sig belemmer is. Dit kan tot blindheid lei. Met akute gloukoom word die oog skielik seer en rooi, sig word wasig, jy sien ’n stralekrans om ligte, die pupille vergroot, jy kry hoofpyn en voel sleg en naar. Akute gloukoom moet dadelik behandel word en behandeling van chroniese gloukoom behels om die agteruitgang te stuit en ongemak te verlig.
2 MAKULêRE DEGENERASIE Dit behels geleidelike sigverlies en begin met die agteruitgang van die retina.
Simptome Die beeld wat jy sien raak wasig en jy sukkel om te lees. Uiteindelik lei dit tot ’n blinde kol in die middel van die gesigveld. Dit is die hoofoorsaak van oogprobleme by mense ouer as 60.
Oorsake Rook en onvoldoende beskerming teen die son kan tot die toestand bydra. Dit begin gewoonlik in een oog en tas dan ook die ander oog aan. Aan die begin kompenseer die gesonder oog vir die sigverlies. Omdat omtreksig behou word, word mense met makulêre degenerasie nooit heeltemal blind nie.
Daar is twee soorte makulêre degenerasie: die droë en nat tipe. Eersgenoemde laat die retina dun word en kom die meeste voor en gebeur geleidelik. Met die nat tipe verswak die oë vinniger. Die simptome van makulêre degenerasie is geleidelike sigverwringing, moeite met lees en kleure wat dowwer lyk.
Behandeling Die toestand word deur ’n oogondersoek vasgestel en in sommige gevalle kan die nat tipe met lasertegnieke reggestel word.
KOS VIR JOU OË
1 Oranje groentes
Jy het seker al gehoor dat wortels goed is vir jou oë. Dis die beta-karoteen (vitamien A) wat goed is vir die retina en ander dele van die oë.
2 Groen groentes
Groen groentes bevat luteïen en zeaxantien – antioksidante wat die risiko van makulêre degenerasie en katarakte help voorkom.
3 Eiers
Dit bevat ook luteïen en zeaxantien, maar ook sink wat oogsiektes help voorkom.
4 Sitrusvrugte en bessies
Die vitamien C help makulêre degenerasie en katarakte voorkom.
5 Amandel
Die vitamien E vertraag die ontwikkeling van makulêre degenerasie
6 Olierige vis
Die omega-vetsure in olierige vis soos makriel, tuna, salm en forel voorkom droë-oog-sindroom.
Sorg vir jou oë
Soos jy ouer word neem jou vermoë om te fokus af en kan dit tot oogspanning lei, maar jou oë kan ook moeg raak as jy heeldag voor die rekenaar of TV sit. In Die doktersboek van tuismedisyne gee hulle die volgende wenke vir moeë oë.
• Anders as wat baie mense dink is dit nie skadelik vir jou oë om by flou lig te lees nie, maar as die lig nie genoeg kontras skep nie, kan dit jou oë ooreis. Lees by gedempte lig wat kontras verleen, maar nie verblindend is nie. Moet ook nie ‘n lamp gebruik wat die lig reg in jou oë terugkaats nie.
• As jy agterkom jy lees nie meer so gemaklik nie, koop eers ‘n leesbril by ‘n apteek wat lees of naby werk vergemaklik maak. Kies die swakste een wat sterk genoeg is.
• As jy ‘n hele dag voor die rekenaar sit, moet jy elke twee tot drie uur rus. Gaan toilet toe, maak vir jou koffie of neem jou oë net 10 tot 15 minute van die skerm af weg.
• Die beste manier om jou oogspanning te verlig is om dit te laat rus. Sluit byvoorbeeld jou oë terwyl jy oor die foon praat.
Pas oor die algemeen goeie higiëne toe, leef gesond en besoek gereeld jou optometris om vroegtydig probleme te identifiseer en skade te voorkom.
Meer inligting
• Inligting verskaf deur South African Optrometic Association – www.saoa.co.za of bel 087 310 7262
• www.health.com
•1000 kure vir meer as 200 kwale
• Oxford mediese woordeboek