Die brein het ongeveer een triljoen selle wat heeltyd in verskillende state van aktiwiteit is. Dit gebeur soms, om verskeie redes, dat die balans versteur raak. Dis wanneer neuroterugvoer jou kan help. Lees meer hieroor in ons 1 Augustus-uitgawe en loer hier vir inligting oor neurogterugvoersessies
Christa Swanepoel
Kerry Swarts van Brain Harmonics verduidelik wat presies in ‘n neuroterugvoersessie gebeur:
1. Assessering: Elke mens se brein is verskillend.
Eerstens bepaal ons hoe jou breinpatrone daar uitsien en hoe dit werk wanneer jy rus en besig is. Om dit te kan doen, word elektrodes op jou kop geplaas om die aktiwiteite in jou brein te meet. Dit is geensins seer of ongemaklik nie.
2. Bespreking: Die resultate word met jou bespreek en daar word saam op ‘n plan vir neuroterugvoersessies uitgewerk – wat hanteer moet word en hoeveel sessies min of meer nodig sal wees.
3. Die sessies: Jy doen takies en kry dadelik terugvoer oor jou brein se aktiwiteit. Jou breingolwe (delta, teta, beta, ensovoorts) word as sekere klanke geprogrammeer.
Die deltabreingolwe word byvoorbeeld as verskillende tromklanke gehoor en die beta as kitaar. Dit help jou brein om homself te hoor en sê vir jou brein as dit teen stadiger of vinniger frekwensies moet “pols”.
Die brein ontvang terugvoer in die vorm van klanke en visuele leidrade. As jou brein hierdie “belonings” ontvang, vorm dit nuwe paadjies.