Willie Burger kyk na Yuval Boah Harari se boek Homo Deus – A Brief History of Tomorrow
Vir baie mense is geskiedenis ’n vervelige relaas oor dinge wat lank gelede gebeur het. Yuval Noah Harari se omvattende geskiedenis van die mensdom, Sapiens. A Brief History of Humankind, het wêreldwyd ’n blitsverkoper geword juis omdat hy daarin geslaag het om geskiedenis op só ’n manier te skryf dat ’n mens kan sien dat dit werklik saak maak.
Hy het dit nou opgevolg met nog ’n blitsverkoper, Homo Deus – A Brief History of Tomorrow. ’n Mens hoor dikwels die gemeenplaas dat die enigste ding wat mense uit die geskiedenis leer, is dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Harari se boeke weerlê hierdie stelling. Albei boeke gaan oor meer as die storie van die verlede; dit gaan oor die implikasies daarvan vir die manier waarop ons nóú en vir die toekoms leef. Harari se vertrekpunt is dat die vernaamste vraagstukke waarmee die mensdom nog altyd geworstel het oorlog, hongersnood en siekte was. Met ander woorde, die mensdom was in ’n stryd om oorlewing en hierdie drie was die vernaamste bedreigings.
Aan die begin van die 21ste eeu is die kanse op grootskaalse oorlog egter baie laag. Meer mense sterf jaarliks weens selfdood as in oorloë. Hongersnood kom sporadies voor, maar meer mense sterf aan siektes wat met vetsug geassosieer word as weens honger. Siektes soos die pes wat in die Middeleeue twee derdes van die Europese bevolking uitgewis het of pokke wat Amerika se inheemse bevolking byna laat uitsterf het, kom nie meer voor nie. Selfs MIV of ’n uitbraak van Ebola het nie die verwoestende effek wat voorspel is nie, omdat die virusse gou identifiseer kan word en grootskaalse optrede daarteen geneem word. In Homo Deus vra Harari wat in hierdie eeu, in die afwesigheid van oorlog, hongersnood en siektes, op die mensdom se agenda gaan wees.
Hy meen die soeke na ewige lewe en durende geluk bepaal nou die agenda. Mense se lewensverwagting is reeds baie hoër as ooit in die geskiedenis en al meer navorsing word gedoen om ons lewens te verleng. Die dood word immers deur “tegniese foute” veroorsaak: harte wat ophou klop, are wat verstop, selle wat wanfunksioneer. Sulke “tegniese foute” kan toenemend uitgeskakel word. Almal is ook op soek na die ontglippende ervaring van geluk. Ons voel gelukkig as ons aangename sensasies ervaar. Aangename sensasies volg op die opwinding van sportdeelname, videospeletjies, of van kompetisie in die werksomgewing – bevorderings, groter kontrakte, jaag van hoër winste, en die aanskaf van vinniger karre, mooier huise, meer orgasmes …
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked
Sulke ervarings van geluksaligheid is egter vlietend, omdat dit ’n biologiese ervaring is. Die liggaam ervaar euforie onder meer weens die afskeiding van hormone, maar die liggaam hou vinnig op om dit af te skei nadat jy die Lotto gewen het, die wendrie gedruk het, werksbevordering gekry of ’n orgasme beleef het. En dan smag ’n mens weer na daardie ervaring, en dus ’n volgende bevordering, lekkerder kos, nog seks, groter wins. As ek lekker bly voel het ná ’n heerlike ete, sou ek nie weer na kos gaan soek het nie, as ek orgasmies bly voel het ná ’n seksuele ervaring, sou ek nie weer seks wou hê nie en so sou oorlewing van die spesie ondermyn word.
Daarom duur die sensasie van euforie nie. Maar ons probleem in die 21ste eeu is dat ons toleransie vir ongemak al hoe laer word en ons smagting na aangename sensasies styg. Wetenskaplike navorsing en ekonomiese handelinge is daarop gerig om beter pynstillers en antidepressante, meer roomysgeure, gemakliker matrasse en opwindender videospeletjies te ontwikkel sodat ons tog net nie verveeld moet wees nie. Hoewel Harari se toekomsblik op die gevolge van kunsmatige intelligensie, biologiese ingenieurswese en cyborg-ingenieurswese aan wetenskapsfiksie herinner, is die blik gegrond op werk wat reeds gedoen is, uitvindings en moontlikhede wat reeds bestaan en waarvan die uiteindelike potensiaal byna onbeperk is.
Die oorgang van homo sapiens na homo deus is vir Harari so radikaal soos die oorgang van homo erectus na homo sapiens. Soos tydens ander groot oorgange in die geskiedenis van die mensdom – byvoorbeeld van ’n landboubestaan na ’n geïndustrialiseerde samelewing – het hierdie oorgang ook tot gevolg dat massas mense hul werk verloor en dat talle beroepe en lewenswyses obsoleet raak. Maar hierdie keer is daar nie ’n kans dat die werkersklas in die nuwe tegnologiese wêreld van rekenaarprogrammering en cyborgs bloot ander werk gaan kry nie. Dáár is slegs vir enkele hoogsgespesialiseerde mense plek. Die meeste mense word dus “oorbodig”. Harari praat van ’n “nuttelose klas”. Een van die groot uitdagings vir die toekoms is om vir die vraagstuk van ’n “nuttelose klas” ’n oplossing te vind. (Huurmotorbestuurders word as gevolg van selfoontegnologie deur Uber-bestuurders vervang, maar almal word oorbodig weens selfbestuurmotors.) Harari se boek is meer as ’n geskiedenis, ’n beskrywing van wie en wat die mens is; dit is uiteindelik ’n nadenke oor waartoe die mens in staat is en hoe ons ons daarop kan voorberei.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.