Ek het hierdie artikel seker drie keer uitgestel voor ek dit begin skryf het. Waarom?
Deur: Zerelda Esterhuizen
Jy weet jy moet jou e-posse beantwoord, maar as jy weer sien, is die dag verby en môre wag daar weer 200 nuwes. Of jy weet jy moet nog jou kind se huiswerkboek teken, maar as jy jou weer kom kry, is die aand verby. Of jy weet jy moet vir Vrouekeur ’n artikel oor uitstel skryf, maar as jy weer sien, is nog ‘n week verby.
Hoekom doen ons nie dadelik iets as ons daaraan dink nie?
Kenners sê daar’s ‘n paar redes daarvoor, maar een van die groot redes is dat ons as mense nie daarvan hou om iets te doen wat nie lekker is nie. Dit maak mos net sin dat ons goed wil doen waarvan ons hou.
Kliniese sielkundige Henk Swanepoel van Pretoria, sê uitstel steel jou produktiwiteit en dit is iets wat almal doen. “Uitstel kan baie vorms aanneem, byvoorbeeld om ‘n belangriker taak te vind as die een op hande, jou dagboek te vul sodat jy met niks kan begin nie en om eerder onbelangrike goed te doen in plaas van om met belangrike take weg te spring.”
Dr ST Potgieter, ‘n sielkundige van Kaapstad, sê mense wat uitstel, is dikwels net so besig soos die ander mense in die werksplek. “Die verskil is jy is besig met aktiwiteite wat vir daardie oomblik onbelangrik is. Dit mag lyk of jy vreeslik besig en bedrywig is, maar eintlik doen jy niks. Jy verhoog die plaasvervangende aktiwiteit se prioriteit ten koste van dit wat werklik belangrik is. Byvoorbeeld, ‘n student wat vir ‘n toets moet leer, sal eerder tyd bestee om sy lessenaar reg te pak en skoon te maak.
“As jy die impak van uitstel in die werksplek wil bereken, sal die volgende stelling van Fred Brooks sin maak: ‘Hoe gebeur dit dat ‘n projek ‘n jaar agter skedule raak? Een dag op ‘n slag.’”
Henk sê dís hoekom ons uitstel
· Jy wil nie eintlik die taak doen nie en daarom het jy ‘n swetterjoel verskonings nodig om dit uit te stel
Die antwoord is om aan jouself te erken dat jy nie die taak wil doen nie – hierdie erkenning is reeds ‘n stap nader aan afhandeling, want dan is die konkrete uitdaging van die “onbewuste” na die “bewuste” geskuif.
· Jy is moeg en het ‘n blaaskans nodig
Dit kan gebeur as jy slegs sekere tye van die dag uitstel. Die rede hiervoor is dat ons in produktiwiteitsiklusse werk. Die meeste mense het nie die vermoë om agt uur per dag onophoudelik te werk nie, daarom het jou liggaam ‘n blaaskans nodig. As jy moeg is, sal jou gedagtes outomaties rondval. Selfs al beoog jy nie ‘n ruskans nie, sal jou liggaam wel een neem. Gee jouself elke 90 minute ‘n blaaskans en doen ‘n kort taak wat jou aandag van die primêre taak afneem. Die sleutel is dat jy bewus is dat jy die skuif maak en dat jy doelbewus uitstel, maar maak seker jy keer na die primêre taak terug. Leer jou liggaam ken en bepaal wat is die maksimum tyd wat jy kan konsentreer.
· Jy is bang, want as jy ‘n te groot stap neem, beweeg jy buite jou gemaksone
Jy stel dus uit om jou spoed te breek om die moeilike taak te vermy en nie mislukking te ervaar nie. Soms kan ‘n mens ook sukses vrees, want jy dink die verwagtinge en druk kan groter word.
· Jy dink ‘n taak is te maklik of te moeilik
‘n Mens stel uit wanneer ‘n taak te maklik of te kompleks voorkom. Iets wat te maklik is, kan jou spoed laat verloor teen dieselfde tempo as iets wat te kompleks is. Laasgenoemde word uitgestel, want jy hou nie daarvan om met iets te sukkel of nie verstaan nie. Gee jou genoeg ruimte vir realistiese verwagtinge. As take bloot te oorweldigend is, gebeur dit dat ‘n persoon “vries”, daarom word goed gedoen wat heeltemal onverwant is.
· Jy is verveeld en het motivering verloor
Die sleutel is hier om minivergoedings in te bou om jou van een tydsgreep na die ander te laat skuif (bv neem 5 minute se blaaskans elke 30 minute). Hierdie kan eenvoudige breuke wees soos om iets te eet of drink of om vir ‘n kort ent te gaan stap of om selfs met iemand te gesels.
Hou op uitstel
· Erken dat jy “uitstel” sonder om dit te regverdig. Erken “Ek is besig om uit te stel”, of “Nou beweeg ek aan”, of kies ‘n frase wat vir jou werk. Ná die erkenning moet jy iets daaraan doen.
· Almal gebruik verskillende vorms van “uitstel”, daarom moet jy poog om dit te identifiseer, byvoorbeeld is dit om op sosiale media rond te kyk, jou kombuis skoon te maak of TV te kyk. Digitale afleiers is een van die grootste “uitstel”-versoekings.
· Jy moet bewus word van hoeveel tyd take jou neem – moenie raai of skat nie. Begin leer wat jou 15 minute neem en wat jou 30 minute neem. Daarna moet jy gereeld tred hou van tyd, want dan weet jy hoeveel tyd jy het om take af te handel.
· Breek die taak in hanteerbare gedeeltes op.
BRONNE:
Dr Henk J Swanepoel: 012 653 3196, [email protected]
Dr ST Potgieter: 021 949 5007, [email protected]