Ons liggaam doen soms dinge waaroor ons nie twee keer dink nie
CHRISTA SWANEPOEL
… GAAP JY?
Alle mense gaap. As ons wakker word, moeg is, selfs as ons iemand anders sien gaap. Die rede hou wetenskaplikes al jare besig. Nou het dr Andrew Gallup aan die Princeton-universiteit tot die gevolgtrekking gekom dat dit die brein afkoel. ’n Gebrek aan slaap en moegheid verhoog die brein se temperatuur en ons gaap, maar anders as wat ons gedink het, maak dit ons nie wakkerder nie, maar help dit om die brein se temperatuur af te bring. As jy begin gaap, trek die kaakspiere kragtig saam en verhoog bloedvloei na die nek, kop en gesig. Omdat jy jou asem diep intrek, forseer dit die spinale vloeistof en bloed van die brein af weg. “Hierdie hele proses werk soos ’n kar se verkoeler. Dit verwyder die warm bloed uit die brein en vervang dit met koeler bloed van die longe af,” verduidelik Andrew.
… HIK JY?
’n Hik is ’n skielike, onwillekeurige sametrekking van die diafragma. As die spier saamtrek, slaan die stembande toe en bring dit die hikgeluid voort. Jy hik as jy te veel of te vinnig eet of drink, te veel alkohol drink, te veel lug sluk, ’n vinnige verandering in maagtemperatuur plaasvind, soos om ’n warm drankie met ’n koue drankie op te volg, en emosionele stres ervaar. Ander minder waarskynlike redes is: siektes wat die senuwee wat die diafragma beheer, irriteer, maagchirurgie, beroerte, sekere medikasie en skadelike dampe. In die meeste gevalle klaar dit vinnig op. Spreek jou dokter as dit langer as drie uur aanhou of as dit jou eet- of slaapgewoonte versteur.
… KLAP JOU GEWRIGTE?
Die kraak- of klapgeluid in gewrigte is baie algemeen en as dit nie met pyn of swelling gepaardgaan nie, is dit nie rede tot kommer nie. Dit kan veroorsaak word deur klein lugborrels wat in die gewrigsvloeistof opbou en bars as die gewrig beweeg wanneer ligamente en senings vashaak as dit oor ’n benerige knop of letsel in byvoorbeeld die knie beweeg en terugspring in posisie. Spreek wel jou dokter as dit met swelling en pyn gepaardgaan of as die knie byvoorbeeld meegee – dit kan op ’n besering dui.
… NIES JY?
Nies is ’n refleks. As daar irritante soos kieme, stof of stuifmeel in die neus is, stuur die brein die boodskap om daarvan ontslae te raak. Dit lei daartoe dat jy jou asem diep intrek en in die longe hou, die longspiere trek saam en die druk bou op. Die tong druk teen die bokant van die mond vas en forseer die lug deur die neus. Dit neem soms twee tot drie niese om van die irritant ontslae te raak.
… KRAP JY AS DIT JEUK?
Kortliks kom dit daarop neer dat krap die gejeuk verlig omdat dit ’n klein bietjie pyn veroorsaak. Dit maak dat die senuselle of neurone pynimpulse in plaas van jeukimpulse na die brein stuur, wat tydelike verligting bied.
… IS JY WINDERIG?
As jy eet, drink of speeksel insluk, sluk jy ook groot hoeveelhede lug en dit hoop in die buik op. Die gas in ons spysverteringstelsel bestaan hoofsaaklik uit stikstof en suurstof. En wanneer ons kos verteer, word gas, in die vorm van waterstof, metaan en koolstofdioksied vrygestel. Soos hierdie gas opbou, moet die liggaam daarvan ontslae raak en dit gebeur deur winde op te breek of uit te laat.
… SNORK JY?
Jy snork as daar ’n obstruksie in die lugvloei deur die mond en neus is. Dit sluit in: as jy ’n allergie of sinusitis het; poliepe in die neus het; die spiere van die tong en keel nie goed werk nie en terugsak op die lugweg, soos wanneer jy diep slaap, alkohol gebruik het of slaappille gedrink het; oorgewig is en die nek dik is; kinders wat vergrote mangels het; die kleintongetjie groot is en die lugweg verklein.
Bron: Internet