7 vrae aan Anna-Marie Frick van Gordonsbaai wat ’n gedeelte van haar lewer aan ’n driejarige dogtertjie geskenk het.
1 Is jy ’n geregistreerde orgaanskenker?
Ja.
2 Hoe het die proses verloop vandat jy besluit het om te skenk?
Ek het vir Juan-Mari laat weet, wat dit met haar man bespreek het. Toe moes hulle toestemming by hul mediese fonds verkry. Ek moes ‘n klomp vorms voltooi en toe hulle tevrede was met die inligting, is goedkeuring verleen. Daarna het Anja Meyer, ’n orgaanverkrygingsbeampte wat my skakel in die proses was, toetse gereël. Sy is lid van die oorplantingspan by Wits Universiteit se Donald Gordon Mediese Sentrum.
Op 22 Januarie het Cheara se fonds ons na Johannesburg gevlieg en ek is reguit van die lughawe na Anja toe vir toetse – ‘n EKG is gedoen, bloed is getrek, bors-X-strale is geneem, ‘n sonar is van my lewer gedoen en toe is ek internis toe vir ’n volledige ondersoek.
Die volgende oggend het ek en Francois ’n afspraak met ’n sielkundige gehad. Sy moes 100% seker maak ons is gereed daarvoor. Toe is ek vir ’n MRI-skandering en nadat die toetse se uitslae bekend was, het ons die dokter wat die operasie sou behartig, prof Jean Botha, gaan sien. Hy het ons stap vir stap verduidelik hoe dinge sal verloop en die operasie bespreek, maar vier dae voor die operasie is ek ingelig dat die departement van gesondheid se goedkeuring nog nie ontvang is nie en die operasie uitgestel moet word.
Uiteindelik het ons 2 Maart gehoor ek moet daardie Woensdag by die hospitaal in Johannesburg wees vir finale toetse en dat die operasie vir die volgende oggend geskeduleer is.
3 Wat het jy met hierdie ondervinding geleer?
Die mense se goeie reaksie en omgee nadat hulle ons storie gehoor en op Facebook gelees het. Ek het ondersteuning en belangstelling van regoor die wêreld gekry. Ek kry steeds daagliks boodskappe van mense wat ek nie eens ken nie om te hoor hoe dit met my gaan.
4 Wat het jy opnuut van jou man, Francois, geleer?
Hy was 24 uur aan my sy gedurende die toetse en ook gedurende die operasie. Die operasie was vir hom baie emosioneel. Hy was baie besorg oor my en Cheara. Hy was by my tot by die teater se ingang.
Die narkotiseur was baie oulik – hy het aan ons die hele prosedure verduidelik en die hele tyd vir Francois per SMS op hoogte gehou terwyl ek in teater was. Ek het weer eens besef watter diep omgeemens Francois is. Hy het ’n baie klein hart en is baie emosioneel. Elke keer as hy die mooi boodskappies van mense op Facebook lees, kry hy ’n knop in die keel. Elke besoek het hy vir Cheara gaan kuier en met ’n groot glimlag teruggekom en vir my kom vertel hoe goed sy doen.
Ons was op 2 April 21 jaar getroud en die hele oorplantingsproses het ons net weer laat besef hoe naby ons twee aan mekaar leef en hoe lief ons mekaar het. Met hom aan my sy, sien ek vir enige uitdaging in die lewe kans. Ons is ’n wenspan.
5 Watter boodskap het jy vir mense?
Gaan lees meer oor orgaanskenking. Mense is onkundig daaroor en daarom wil hulle nie ’n skenker wees nie. Ek wens skole wil kinders ook meer van orgaanskenking bewus maak. Jy kan ’n verskil in iemand se lewe maak. Ek glo as jy ’n geliefde verloor, is dit reeds erg, maar as jy ’n ander persoon se lewe kan red, is dit ’n mate van vertroosting. Dit is ’n wonderlike gevoel om deel te wees van ’n mooi storie wat iemand ’n tweede kans op lewe gee. Jaarliks sterf duisende mense terwyl hulle op organe wag.
6 Hoe voel jou seun, Dylan, en man, Francois, oor wat jy gedoen het en wat was hul reaksie toe jy hulle die eerste maal vertel het?
Hulle is albei baie trots op wat ek gedoen het. Hulle het my van die begin af ondersteun en bygestaan met my besluit.
7 Voel jy anders oor die lewe?
Ek het baie siek mense in die hospitaal gesien en net weer besef hoe bevoorreg ons is om gesond te wees. Ek is geseënd met ’n wonderlike, gesonde en talentvolle 19-jarige seun. Hy was nog nooit ernstig siek nie en dan sien jy hierdie jong kinders wat elke dag vir hul lewe veg en ouers wat hul kinders se pyn en leiding deurmaak.