Dink jy Valentynsdag is ’n foefie of ’n heerlike dag om jou geliefde spesiaal te laat voel? Ons het ’n paar mense gepols oor wat hulle dink en hoe hulle hierdie dag vier
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Vir die romantiese siele onder ons is dit ‘n dag om diep in jou geliefde se oë te staar en hom of haar van jou onsterflike liefde te verseker. Vir ander is dit net nog ’n dag en dan is daar sommige mense wat glo dis ’n kommersiële klug wat ons van ons broodnodige geldjies wil beroof. Hoe dit ook al sy, die dag van die liefde is hier en ons vra ‘n paar vroue hoe hulle daaroor voel.
Annelie Kasselman, Klerksdorp
Dis altyd lekker om mekaar op Valentynsdag te bederf – van ontbyt in die bed tot ‘n spesiale aand uit. Maar vir my en my man, Friedrich, is dit nog belangriker om elke dag van die jaar ons liefde vir mekaar te wys. Dis mos die klein dingetjies in die lewe wat ‘n groot verskil maak. “True love requires faith, trust and loyalty, not chocolates, flowers and expensive gifts.”
Susie Pretorius, Alberton
Ek en my man, Gawie, vier nie juis Valentynsdag nie. Ons koop nie geskenke nie, maar sal saam met ons kinders gaan uiteet of ‘n lekker ete by die huis maak. Ek voel mens het nie een dag ‘n jaar nodig om jou geliefde spesiaal te laat voel nie. Elke dag moet spesiaal wees, want die lewe is so kort.
Adele Abrahams, Vredenburg
Ons doen nie regtig iets vir Valentynsdag nie. Ek wil nie enige beertjies of bekers hê wat in my kas staan, wat sê “I love you” nie. Dit moet eerder vir my gesê word! Gershwin het boonop hierdie Valentynsdag ‘n werksete. Dis vir ons belangriker om naweke gehaltetyd deur te bring as om een dag uit te sonder wat nie vir ons betekenis het nie. Verjaardae en familie-byeenkomste is vir ons belangriker.
Amanda du Plessis, Krugersdorp
Ons vier definitief Valentynsdag, ek voel mens moet veral in ‘n huwelik die liefde vier. Mens raak deesdae so besig dat jy skaars tyd vir jouself het, wat nog te sê vir jou huweliksmaat. Hierdie jaar het ons die oggend skoolatletiek, dus gaan ontbyt nie werk nie en die weeksaand is moeilik met die kinders. Ek en my man, Ernst, sal egter definitief die naweek ‘n afspraak hê as Ouma na die kinders kom kyk. Ek sal ook ‘n geskenkie gee om die liefde van my lewe spesiaal te laat voel.
Simone Cameron, Port Elizabeth
Ons vier Valentynsdag en ons is mal daaroor, maar vanjaar gaan ons ongelukkig niks kan doen nie. My man, Gerard, het aandklasse en ek moet by die huis na ons drie kinders omsien. Dit is dus huiswerk, projekte, badtyd, etenstyd, en dies meer … Ons sal maar net ‘n ander datum kies om dit te vier en dan is dit aandete, blomme en natuurlik Lindt-sjokolade …
Juanita Wassermann, Krugersdorp
Ek en my man, Petrus, vier dit beslis. Ons gaan vanjaar na ‘n hotel vir ‘n spabederf, spesiale ete en oorslaap.
Videa Smith, Potchefstroom
Ek en my man, Anderton, vier Valentynsdag, as ons dit onthou! Ons doen egter nie iets groots nie, maar sal vir mekaar ‘n klein geskenkie soos ‘n gunstelingsjokolade koop en die aand gaan uiteet om die week se gejaagde roetine te breek. Eintlik glo ons paartjies moet gereeld spesiale dae hê om liefde en waardering te wys.
Adele Ferreira, Fochville
Ons vier nie Valentynsdag nie. My man, Wouter, dink dis maar clichéagtig en ons glo albei daaraan om elke dag spesiaal te maak en ons liefde vir mekaar te betoon.
Stephanie Rappard, Pretoria
Ons vier elke dag die liefde, maar Valentynsdag gee ons rede vir iets lekker romanties en spesiaals. Ek gaan vir my ‘n nuwe rooi rok soek en ek en my man, Henk, gaan die aand geschnetzeltes by die Duitse eetplek oorkant die straat eet. Die terugstap onder die sterre (of onder ‘n sambreel as dit reën) is romantieser as enige rooi hartjie of sjokolade!