Lees in ons 8 April-uitgawe meer oor aardverwarming.
Horace Terry gee hier raad hoe verbruikers die impak van die droogte op hul sak kan hanteer:
“As jy volgens ‘n begroting werk en jou rieme fyn moet sny, sal jy ‘n paar aanpassings moet maak om finansieel in 2016 te kan oorleef.
Eerstens, sal dit wys wees om in ‘n mate selfvoorsienend te word. Begin ten minste ‘n basiese groentetuin.
“Jy gaan ook vir seker iewers van jou luukshede moet prysgee, om kapasiteit in jou begroting te skep om die verhoogde voedselpryse en effek van die swakker rand en hoër rentekoerse te kan absorbeer. Onthou, die meeste kragte of veranderlikes wat op ‘n ekonomie inwerk, se impak is nie onmiddellik sigbaar nie, en dit het gewoonlik ‘n kettingreaksie tot gevolg wat jou as die verbruiker kan affekteer al het alles na normaal teruggekeer.
Koop ook slimmer, besoek meer as een supermark, vergelyk pryse en koop die winskopies.
Jy en jou buurmanne kan selfs jul geld poel en saam by die plaaslike varsproduktemark gaan vrugte en groente koop.
Soek op die internet of in tydskrifte na resepte wat jou sal toelaat om smaaklike etes teen ‘n sakpasprys voor te berei.
Hersien ook jou beleggings- en spaarprodukte en belyn dit met die verwagtinge vir 2016. Soos reeds genoem, gaan 2016 ‘n moeilike jaar wees, en goeie beleggingsopbrengste gaan waarskynlik skaars wees. Weet egter dat tydens die meeste onsekerheid op finansiële markte doen die beste geleenthede hulself voor en as jy dit nie nou gaan benut nie, gaan jy in die toekoms spyt wees.
Kry terselfdertyd vir jou ‘n noodfonds in plek (indien jy nie reeds een het nie) en begin elke maand vir jou ietsie daarin weg te sit. Dit gaan jou baie help wanneer die volgende droogte of ander finansiële skok jou begroting tref.