Pyn is die natuur se manier om vir jou te sê jy is in gevaar of beseer
Christa Swanepoel
Daar is verskillende soorte pyn – dit kan brand, steek, klop of drukkend wees. As pynreseptore in die vel, spiere, gewrigte en interne organe geaktiveer word, stuur dit inligting na die rugmurg, wat die boodskap na die brein oordra. Die meeste mense ervaar pyn weens weefselskade, soos ’n brandwond of ’n sny, maar dié pyn verdwyn as die wond genees het, of selfs vroeër. As ons liggaam egter nie die skade geheel en al kan herstel nie, soos as ’n ligament geskeur is, ná ’n operasie of weens slytasie, kan die pyn voortduur. Somtyds is dit die senuwees self wat die pyn veroorsaak. Dit word neuropatiese pyn of neuralgie genoem. As ’n senuwee byvoorbeeld in die rugwerwels vasgeknyp word, veroorsaak dit skiatiese pyn in die been. Die brein kan dit interpreteer dat die pyn van die been af kom eerder as van die senuwee self. Ons pyndrempel (hoe jy pyn ervaar) kan ook deur jou gemoed bepaal word. As dit goed gaan en jy aktief is sal jy dikwels nie eers agterkom dat jy pyn het nie, terwyl jy dit baie erger sal ervaar as jy moeg, gestres of bang is. As jy elke dag pyn ervaar kan dit jou geïrriteerd en selfs depressief maak.
Wat jy kan doen
- As jy chronies pyn ervaar, is dit raadsaam om ’n holistiese benadering te volg.
- As jy aanhoudend pyn ervaar, is dit dikwels onmoontlik om ’n goeie nagrus te kry, maar slaap laat die spiere en gewrigte ontspan, gee die beskadigde weefsel tyd om te herstel en gee jou weer moed om aan te gaan.
- ’n Warm bad, ’n warm drankie en ’n styselhappie voor slaaptyd kan help.
- ’n Pynstiller net voor slaaptyd kan maak dat jy darem ’n paar uur se rustige slaap inkry.
- Ruim ’n rustydjie deur die dag in as dit moontlik is.
- ’n Stresvolle werk of probleme in jou ver houdings kan die druk verhoog en maak dat jy meer pyn ervaar. Leer ontspanningstegnieke aan as jy dit nie kan veran der nie.
- ’n Gebalanseerde dieet met baie vars vrug te en groente sal jou beter laat voel en jou liggaam die nodige voedingstowwe gee om met herstel te help.
- Moenie alkohol gebruik om pyn te verdoof nie. Te veel alkohol kan jou nog moeër laat voel en die pyn selfs vererger.
- Dit klink nie of oefening en pyn saamgaan nie, maar dit kan spiere versterk wat weens siekte of onaktiwiteit verswak het. Gereel de oefening kan ook die produksie van endorfiene, die goedvoelhormoon, verhoog, wat pynvlakke kan verlaag.
- Die valse pynboodskappe wat deur beskadigde senuwees na die brein gestuur word kan met medikasie wat dié boodskappe na die brein blokkeer, behandel word.
- Sekere antidepressante wat in lae dosisse geneem word, kan chroniese pyn verlig en ook die depressie verlig wat dikwels met chroniese pyn gepaardgaan. As dit met slapens tyd geneem word, kan dit ook vir ’n beter nagrus help.
- Daar is verskeie soorte pynstillers op die mark. Spreek jou dokter, wat sal vasstel wat die onderliggende oorsaak van jou pyn is en die regte medikasie vir jou sal voorskryf.
SOURCES
Verskaf