Hipnose kan suksesvol gebruik word om fobies mee te oorkom, sê Hendrik Baird, ‘n konsulterende hipnotiseur.
Ansja Ferreira
“Drie of meer sessies word benodig om deur die verskillende aspekte te werk wat gewoonlik tot permanente veranderinge lei. Nuwe kliënte word altyd eers touwys gemaak en misverstande oor hipnose word uit die weg geruim, sê Hendrik.
“Die kliënt word in die hipnotiese proses ingeneem en sekere tegnieke aangeleer. Innerlike hulpbronne sal tydens so ‘n sessie ontgin word om die kliënt die vertroue te gee dat die probleem oorkom kan word. Dit mag dalk aangevul word deur direkte suggestie om die kliënt te help om die verandering te begin maak. Hierdie suggesties mag disassosiasie te weeg bring.
“Tydens ‘n tweede sessie sal die onbewustelike redes vir die probleem verken en ‘n gepaste tegniek gebruik word om die kliënt te help om die probleem op te los. Dit mag dalk nodig wees om innerlike konflik op te los. Indien die probleem in die verlede ontstaan het, gewoonlik buite bewustelike herinnering, kan dit deur regressie aangespreek en vanaf ‘n volwasse perspektief herinterpreteer word, verduidelik hy.
“Die kliënt sal ‘n week of twee benodig om die veranderinge te begin integreer voor ‘n derde sessie wanneer daar evaluering gedoen word om te bepaal tot watter mate die fobie verminder of verdwyn het. Moontlik moet die werk wat in sessie twee begin is voortgesit word, of dalk kan die kliënt sekere “ankers” geleer word, byvoorbeeld om twee vingers teen mekaar te druk om ‘n sekere goeie emosie later weer op te roep.
Hendrik vertel van Magda* wat glad nie by ‘n winkelsentrum kon ingaan nie. Dit het haar verskriklik angstig en paniekbevange laat voel. Later het sy dit heeltemal begin vermy. Tydens hipnose het dit aan die lig gekom dat sy as kind deur haar broer in ‘n hangkas toegesluit was. Bewustelik kon sy dit nie onthou nie, maar in hipnose deur middel van regressie kon sy dit weer belewe.
Nadat sy haar broer in hipnose kon vergewe en die ervaring in ‘n ander lig kon sien, het sy verstaan hoe die emosie wat sy in die hangkas ervaar het, weer in winkelsentrums teruggekom het. Die emosie was geaktiveer deur ‘n ligte motorongeluk ‘n paar jaar tevore toe sy nie dadelik uit die kar kon kom nie.
Magda se fobie het dramaties verminder en binne ‘n week kon sy gemaklik winkels toe gaan. Die eerste paar keer het sy die anker gebruik om gemakliker te voel. Ná nog ‘n sessie het Magda se fobie heeltemal verdwyn. Vandag werk sy in ‘n winkelsentrum.
Meer inligting
• Kontak Hendrik Baird by 083 379 2489 of besoek www.hypnosis-works.co.za
• Besoek die Suid Afrikaanse Instituut vir Hipnose by www.hypnotherapy.co.za
*Skuilnaam