Die boek Chocolate deur Katelyn Williams is onlangs deur Human & Rousseau in Kaapstad bekend gestel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Elke denkbare resep waarin jy sjokolade wil gebruik is hierin en pragtig deur liplekker foto’s geïllustreer.
Katelyn is ’n kosstilis, kosfotograaf en resep-ontwikkelaar wie se kosblog The Kate Tin vir drie jaar as die beste kosblog in Suid-Afrika aangewys is.
Katelyn het by die geleentheid vertel dat haar wonderlike kos-assistent, Cassie Upton, haar gehelp het om meer as 120 resepte te bak en te berei en Hein van Tonder die fotograaf was. Katelyn het die stilering self gedoen en haar man, Antonino Allegra,’n sjokolademaker, het al die sjokolade gemaak waarmee sy gebak het. Hy is die eienaar van AFRIKOA Chocolate.
“Ons het 25 kg sjokolade, 18 kg suiker en 10 kg botter gebruik om die 90 resepte in die boek te berei. Ons het vir tien volle dae foto’s geneem en ongeveer 10 resepte per dag afgeneem.”
Al die oorblywende koek en soetgoed is daagliks aan Brownies for Downies in Kaapstad geskenk, sodat hulle dit in hul kafee kon verkoop. Die opbrengs van hierdie wonderlike inisiatief word aangewend om intelektuele gestremde jongmense in die gasvryheidsbedryf op te lei.
Reuse foto’s uit die resepteboek is teen die mure geplak en uit die dak gehang, met verskillende sjokolade-stasies waaraan gaste kon smul. Sy het ook vertel dat haar uitgewer by Human & Rousseau, Annake Müller, haar elke dag gehelp skottelgoed was het na die fotografie vir die dag afgehandel was.
Elke gas het die geleentheid gehad om hul eie sjokolade te maak. Antonino het die basisse gegiet en verskeie neute, klapper en gedroogde vrugte uitgepak waarmee gaste op hul sjokoladebasis kon eksperimenteer. Met die groetslag was daar sakkies sjokolade in kunsbome versteek en gaste kon sakkies uitsnuffel en saamneem huis toe.