Van vratjies tot hepatitis en aspirien – kry inligting oor dié kwessies hier
Christa Swanepoel
’n A+ vir aspirien
Aspirien is net so goed soos baie duurder bloedverdunningsmedikasie om bloedklonte ná ‘n heupvervangingsoperasie te help voorkom. Dit is die bevinding van Kanadese navorsers in ‘n onlangse studie.
Mense wat so ‘n operasie ondergaan, loop die risiko om diepaar-trombose en pulmonêre embolisme te ontwikkel en dokters skryf dikwels bloedverdunningmedikasie soos heparin (inspuiting) of rivaroxaban (‘n pil) voor. Die navorsers het pasiënte tien dae lank met heparin en aspirien onderskeidelik behandel en dit vier weke lank daarna opgevolg. Hulle het bevind dat albei ewe goed en veilig was, maar dat aspirien aansienlik goedkoper uitgewerk het. (MSN Health)
Wat is ’n vrat?
Nee, ’n padda het nie op jou gepiepie nie! Vratjies is goedaardige veltumors wat enkel of in ’n groep enige plek op die lyf kan voorkom en word deur die papilloomvirus veroorsaak. As jy self daarmee sukkel, was jy dalk al by ’n dokter wat dit gebrand, gevries, geskraap of gesny het. En dan weet jy ook dat dit nie altyd help nie. Wat vir een mens help, help nie noodwendig vir ’n ander nie en wat vir een vratjie help, help nie vir ‘n ander nie. Dis dus te verstane dat lyers soms enigiets sal probeer. Mense het gereeld vir my ouma gevra om hul vratjies “maan toe te blaas” en het daarby gesweer. Ander boererate wat mense al probeer het, is:
• Drink knoffelkapsules of -tablette.
• Vryf kryt of rou aartappel oor die vel.
• Plak ’n piesangskil met sy binnekant na onder teen ‘n voetvrat.
• Week suurlemoenskyfies in asyn met ‘n knypie sout en laat twee weke staan. Vryf dan die suurlemoenskyfies oor die vrat. (Tuismedisyne)
Die fokus is op …
Hepatitis sluit verskeie toestande in wat deur ontsteking van die lewer gekenmerk word. Dit word dikwels deur ’n infeksie veroorsaak en kan skielik toeslaan of chronies wees.
Van die oorsake is die hepatitisvirusse A, B, C, D en E en ander virusinfeksies soos klierkoors, ’n oordosis van sekere medikasies soos parasetamol, oormatige gebruik van alkohol en sirrose. Daar is geen spesifieke behandeling vir akute hepatitis nie. Chroniese hepatitis word met antivirale middels en steroïede behandel. Vir alle vorms van hepatitis is rus, vermyding van alkohol en ‘n gesonde dieet goeie raad.
Baanbrekers
Voor daar ‘n polio-entstof was, het meer as 45 000 Amerikaners jaarliks dié belemmerende siekte opgedoen. In 1952 het dr Jonas Salk dit reggekry om ’n entstof daarteen te ontwikkel en tien jaar later het die syfer tot 910 per jaar gedaal. Hy het dit nie gepatenteer nie en nie geld vir sy uitvinding gekry nie. Dit was vir hom genoeg beloning om soveel moontlik mense te help.