Navorsers het gevind dat selfs dolfyne slagoffers van alzheimersiekte kan word
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dolfyne, wat vir hul hoë intelligensie bekend is, kan ook alzheimersiekte ontwikkel. Dit is volgens ‘n nuwe studie aan die Oxford-universiteit wat in die joernaal Alzheimer’s & Dementia gepubliseer is.
Dieselfde tekens van die siekte wat by mense in die brein opgespoor word, is in die breine van dolfyne gesien wat in die see dood is en wat aan die Spaanse kus uitgespoel het.
Dit is baie raar om tekens van alzheimersiekte in diere se breine te vind, sê die studieleier, prof Lovestone.
Hoewel die studie sê dat dolfyne die eerste wilde diere met beduidende tekens van die siekte is, is daar ook al in ‘n ander studie tekens van alzheimersiekte by sjimpansees gevind.
Die wetenskaplikes hoop nou om dolfynbreine verder te bestudeer om te sien hoe die siekte vorm.
BRON: www.nydailynews.com