Klein Karoo Klassique bied dié week ’n blik op die vokale komposisies van die komponis Hendrik Hofmeyr
Deur JOHAN MYBURG
Ter viering van Hendrik Hofmeyr se 60ste verjaardag bied Klein Karoo Klassique Saterdag ’n huldigingskonsert op Oudtshoorn aan. Die program vir dié konsert is saamgestel om “’n klein blik op die vokale komposisies van dié musikale reus” te bied.
Hoewel Hofmeyr komponis van ’n omvangryke oeuvre is, wat operas, balletmusiek, konserte vir solo-instrumente en ander orkeswerke asook kwartette en ander kamermusiek insluit, is dit met sy komposisies vir stem, en spesifiek dié vir stem en klavier, waarmee hy in dié konsert vereer word. Die soliste is drie sangdosente aan die Universiteit Stellenbosch se konservatorium: Lauren Dasappa (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan) en Jolene McCleland (mezzosopraan).
Die begeleier is José Dias. Die program sluit in “Alleenstryd”, ’n siklus op gedigte van SV Petersen, “Of Darkness and the Heart” op gedigte van Fiona Zerbst en “In die skadu van die son” (teks deur Lina Spies). Volgens Niël Rademan, samesteller van die program, is die program “doelbewus tweetalig saamgestel om ’n wyer gehoor te lok en te bevredig, en ook om uitvoergeleenthede vir die toekoms te vergroot”. Benewens toonsettings van verse van Suid-Afrikaanse digters, het Hofmeyr ook gedigte in Engels, Frans, Italiaans en Spaans getoonset. Ná sy studie aan die Universiteit van Kaapstad, wat hom ’n meestersgraad besorg het, is Hofmeyr in 1981 met ’n studiebeurs na Italië waar hy tien jaar lank vertoef het.
LEES OOK: Klassieke klanke: Richard Strauss
Tydens hierdie jare van selfopgelegde ballingskap het hy hom verder bekwaam, onder meer as komponis en begeleier. Sy eerste opera, Il principe Barbablù, is in 1986 op die Stia-musiekfees in Italië aangebied en die volgende jaar het hy die Suid-Afrikaanse operakompetisie met The Fall of the House of Usher gewen. Toe dié opera die volgende jaar in die Staatsteater aangebied is, is die Nederburg-operaprys daaraan toegeken. In 1988 het hy met ’n werk wat hy vir ’n kortprent van Wim Wenders geskryf het, die internasionale Trentse rolprentprys verower. In 1992 is hy as dosent aan die Universiteit Stellenbosch aangestel en in 1998 het hy aan sy alma mater begin klasgee, waar hy ook die volgende jaar sy doktorsgraad verwerf het.
Hy is tans professor aan die Universiteit van Kaapstad se musiekskool. Hofmeyr het ’n hele rits indrukwekkende pryse verower: Onder meer die Unisa-Transnet-komposisieprys in 1995 en die Belgiese Koningin Elizabeth-prys asook die Dimitris Mitropoulos-komposisieprys in Athene in 1997. In ’n onderhoud in 2007 met Heinrich van der Mescht, professor in musiekwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, het Hofmeyr opgemerk dat “die komponis by die keuse van die gedig seker moet wees dat die musiek iets tot die waarde van die gedig sal toevoeg om op te maak vir dit wat tydens die toonsetting weggeneem word”.
Vir hom was SV Petersen se gedigte die maklikste om te toonset, omdat Petersen se styl deur baie kort en kragtige sinne gekenmerk word en hy ook oor die algemeen ’n baie sterk, dramatiese verloop in die gedig inbou, wat in die finale koeplet na ’n klimaks opbou. “Alleenstryd” was sy eerste poging om ’n geïntegreerde siklus te skep waarin die liedere in elke opsig interafhanklik is en ook dieselfde tematiek gebruik. Die ses gedigte in dié siklus is “Kinders van Kain”, “Die veles”, “Weeklag van die gewonde”, “Kinderland”, “Die gier van die Bose” en “Ecce homo”.