Die bekroonde Healey’s Slow Matured Cheddar se nuwe tuiste is by Waterkloof Wines buite Somerset-Wes
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die Healey’s Cheesery and Deli @ Waterkloof is nou ook langer ure oop, sodat gesinne ná werk kan kom inloer of oor die naweek ’n luilekker dag kan kom deurbring. Die ou plaashuis is in die nuwe deli omskep en het ‘n pragtige uitsig oor Valsbaai.
Deur die reuse glasruite kan besoekers die hele kaasmaak-proses gade slaan en ook sien waar die Cheddar in beheerde temperature verouder word.
Elke oggend vroeg word 1 500- 2 000 liter melk van ’n nabygeleë plaas afgelewer. Melk van ‘n graswei Vrieskoei, wat ‘n laer vet-inhoud het, is die beste geskik vir Cheddar. Desiree Stuart, die hoof van die kaasmaak-span, eksperimenteer ook nou met fetakaas wat van die plaas se eie Jersey-koeie se melk gemaak word.
Nadat die dag se kaas gemaak is, word die wei weggery en op die plaas se komposhoop gegooi, wat weer in die grond teruggeploeg word. Waterkloof word op ‘n biodinamiese stelsel geboer.
Die Cheddar is natuurlik, bevat geen preserveermiddels, kunsmatige kleursel of bygevoegte geurmiddels nie. Die melk word ook nie gepasteuriseer nie, wat aan die kaas die verdere voordeel gee van goeie bakterieë, wat die geur versterk.
LEES OOK: Kaasfees veel meer as net kaas
Die kase word in twee groottes gemaak: een van ongeveer 10 kg en een van ongeveer 2 kg. Die kaas word in ‘n koelkamer teen 12 grade Celsius met die humiditeit van 80 gehou en gemiddeld tussen agt en twaalf maande verouder. Die kase word elke twee weke gedraai, om die eweredige verspreiding van die bottervet te verseker.
Healey’s se stadig-verouderde Cheddar word sedert sy ontstaan in 2005 gereeld as een van die wêreld se vier top Cheddars aangewys. Healey’s se bestuurder, Jannik le Roux, vertel dat die opening van die deli en restaurant ’n natuurlike uitvloeisel was omdat kaas en wyn mekaar so goed aanvul.
Daar word drie soorte kaas gemaak: die verouderde Cheddar, ‘n Cheddar met blou are, Waterkloof Veined en jaarliks word daar net 200 kg van die Healey’s Slow Matured Cheddar Single Release kaas gemaak. Die kaas word gemaak van die melk wat op ‘n sekere tyd in die lente ingebring word. Wanneer die velde op hul groenste en voedingrykste is, produseer die koeie melk van uitstaande gehalte en dis wanneer hierdie uitsonderlike kaas gemaak word. Dit word vir ’n minimum van 11 maande verouder.
Daar is verskillende etes soos tuisgemaakte pasteie, bobotie, en ’n Griekse macaroni maalvleisgereg met ‘n dik laag Healy’s beleë Cheddar beskikbaar. Besoekers kan ook een van hul vele lekker kaas-en-vleisborde met ciabatta of suurdeegbrood bestel. Kies van Waterkloof se wyne, Mad Giant craft se bier, koeldranke of cappuccinos om die dors te les.
Die kaasmaakspan wat nou al jare hierdie wen-kase maak, is Gaynor Williams, Desiree Stuart, Granville Daniels, Xolani George Duka en Siyabona Paul.