Dit blyk 2019 gaan ’n sonskyngeel jaar vir Haute Cabrière Wynlandgoed buite Franschhoek wees
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die wynreeks spog almal met ’n vars, nuwe voorkoms en geel is nou dié kenmerkende handelsmerk kleur.
Takuan von Arnim, keldermeester by Haute Cabrière, het aan gaste by ’n bekendstellingsfunksie vertel dat daar ook in die winter beduidende opknappnings aan die restaurant gemaak gaan word. Die restaurant is onder bestuur van die bekende televisie-glanspersoonlikheid, sjef Nic van Wyk, onder meer van Kokkedoor-faam.
Dis vanjaar bykans ’n kwarteeu gelede sedert die Von Arnim-familie die Haute Cabrière wynreeks op die plaas teen die Franschhoek-pas onder leiding van die patriarg, Achim, vrygestel het.
Die plaas het sedert sy ontstaan in wyne van Chardonnay en Pinot Noir-druiwe spesialiseer en het sedertdien bekendheid verwerf vir sy Chardonnay Pinot Noir.
Hildegard von Arnim, Arnim se vrou en Takuan se ma, het by die funksie aan gaste vertel dat die Chardonnay Pinot Noir eintlik ’n toevalligheid was. “1994 was buitengewoon droog en warm en die druiweplukkers kon nie gou genoeg al die druiwe per hand pluk nie, wat ’n oes met ’n hoër suiker-inhoud tot gevolg gehad het.
“Dit het wyne met ’n hoër alkohol tot gevolg gehad en dit was ongeskik vir die basiswyn van ons Pierre Jourdan Méthode Cap Classique-reeks. Achim het besluit om hierdie Chardonnay Pinot Noir-versnit as stilwyn te bottel – iets wat heeltemal ongehoord was vir daardie jare. Dit het ’n kultus-aanhang verwerf en is vandag nog net so gewild.”
Sy het gesê hulle dink aan hierdie wyn as Afrika sonskyn in ’n bottel en die wyn het ’n kenmerkende geel skroefdop, wat nou die inspirasie vir die nuwe etikette met geel as handelsmerk-kleur was.
Die reeks sluit ook die Pinot Noir Unwooded en Pinot Noir Reserve in.
Lakrids by Bülow, het pas in Suid-Afrika geland en is nou deel van die Haute Cabrière restaurant- en wynproe-ervaring.
Gaste is met die landgoed se drie verskillende styl Méthode Cap Classique, Pierre Jourdan, ontvang, terwyl peuselhappies buite geniet is.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.