Joernaliste en fotograwe is verlede week by MultiChoice in Johannesburg onthaal om te ervaar wat DStv-intekenare vir die volgende 12 maande op die kassie kan verwag. Neil Andrews, aanbieder van Super Saturday, was die seremoniemeester vir die twee-dag geleentheid.
Maryke Roberts
“Feel the heat” was die tema en met al die vuurwarm vermaak wat wag, kon mens nie help om die hitte te voel nie. Ook is M-Net vanjaar 30 jaar oud en groot vieringe word vir later vanjaar beplan.
Mark Rayner, die hoof operasionele bestuurder van MultiChoice SA, het onder meer vertel dat MultiChoice jaarliks R11,4 biljoen tot die nasionale koffers bydra en R3,2 biljoen se belasting betaal. Daar word R1,5 biljoen aan plaaslike produksies spandeer. “MultiChoice was ook die eerste organisasie buite die VSA om sateliet-televisie aan kykers te bied.” Hy het genoem dat die uitdagings om vars, nuwe inhoud te bekom, jaarliks toeneem, omdat mense soveel verskillende keuses het waar hulle hul kykgenot vandaan gaan kry.
“Die DStv Explora is uniek in die wêreld en is die resultaat van groeiende behoeftes van ons kykers. TV moet eenvoudig wees, ‘n een kliek-ervaring.”
Motheo Matsau, bemarkingshoof van SuperSport, het vertel dat dié sportkanaal vanjaar buiten die omvattende dekking van internasionale sport, op drie groot sportgebeure gaan fokus: die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, die Wêreld T20 krieket in Indië en die UEFA EURO 2016 in Frankryk.
Graeme Cumming, groepbestuurder DStv digitale media, sê mense gebruik hul fone, rekenaars, tablette en televisies om na beelde te kyk en die behoefte na al groter stoorfasiliteite neem daagliks toe. Hy het vertel van DStv Now, wat die gewilde Explora in jou binnesak is.
“ ‘Catch Up’ is ons vlagskip-produk. Ons het nie die breëband-kwaliteit en spoed wat Europa en Amerika het nie. Sateliet-televisie is steeds die beste manier om sein in jou huis te kry, ongeag die kwaliteit of spoed van die internetkabels in jou omgewing. Ons het Afrika-oplossings vir Afrika-probleme gevind,” het hy gesê.
Die Explora se sukses is deels toe te skryf aan die feit dat die sagteware in-huis deur MultiChoice tegnici ontwikkel en opgradeer word.
Aletta Alberts, hoof van inhoud, MultiChoice, het gesê: “DStv het 139 kanale wat 98 derde party kanale oor 12 genres insluit. Van die drama-reekse wat vir die nuwe seisoene wag is onder meer Rosewood, Empire, UnREAL, Fear The Walking Dead, Silent Witness, The Musketeers, The X-Files Re-opened, Billions, Bosch, Unbreak my heart: The Toni Braxton Story, American Crime Story, Churchill’s Secret, The Walking Dead, Orange is the new black, House of Cards en Game of Thrones.
“En ek is trots om te sê ons het die beste kinderprogramme in die wêreld,” het sy bygevoeg. “En as daar een is wat ons nie het nie en ons kykers ons van bewus maak, gaan ons tot die uithoeke van die wêreld om dit te kry.”
Yolisa Phahle, HUB van M-Net, het vertel dat van die sitkoms waarna kykers kan uitsien is onder meer, The Grinder, Life in Pieces, Instant Mom, Fresh off the boat, Zoe ever after en Uncle.
Opwindende programme wat deurslaggewende gebeure in die geskiedenis uitbeeld, word op die History-channel uitgesaai en by die dokumentêre is daar reekse soos The Island with Bear Grylls, True Nightmares, From Wags to Riches, The Yard, Pawn Stars South Africa, Texas Rising, Forged Fire en What on Earth.
In die realiteitsreekse is Married by Mom & Dad, Lip Sync Battle, The Jacksons: Next Generation, Dance Moms, Love at First Wipe, Little Women LA en Married at First Sight.
Gogglebox South Africa is ook op pad, waar groepe mense televisie kyk en hul kommentare uitgesaai word. Dis baie gewild oorsee.
Ander vooruitskoue van kykNET, Mzansi Magic, M-Net en M-Net flieks is deur verskillende verteenwoordigers bespreek en hieronder val onder meer Lucifer, Limitless, Divorce en The Catch.
Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, het meer vertel oor die uiters gewilde dramareeks Getroud met rugby, wat van 4 April in ‘n sepie omskep sal word en om 18:30 elke weeksaand op kykNET, DStv-kanaal 144, as ‘n nuwe sepie op die kassie sal wees.
Getroud met rugby is ? kykNET-suksesverhaal wat geen bekendstelling nodig het nie. Dié dramareeks is een van die gewildste reekse wat tot nog toe deur kykNET aangebied is. Gewilde karakters van die dramareeks sal steeds hulle plekke volstaan.
Ander hoogtepunte wat in April op kykNET begin, is Fluiters, Koekedoor en Vinkel en Koljander.
Natasha Abed, bestuurder kliëntediens het meer oor hul inbelsentrum vertel. “Ons probeer dat ons kliënte ons nie bel nie, want as hulle bel, kyk hulle nie televisie nie. Ons het 2,1 miljoen oproepe, sms’e, tweets en ander navrae per maand en ons probeer om elkeen binne 30 sekondes te antwoord. Ons suksessyfer is 80% en ons het al heelwat toekennings vir ons sentrum gewen. Daar werk 1600 werknemers, wat sewe dae per week van 07:00 tot 23:00 die lyne beman.
Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, stel die hele span van die gewilde dramareeks Getroud met rugby, wat van 4 April in ‘n sepie omskep sal word, bekend.
SOURCES
verskaf