Die legendariese Stellenbosse wynlandgoed Kanonkop en Rijk’s-kelder van Tulbagh, het hul oorheersing van die Absa Top 10 Pinotage-toekennings voortgesit deur elk ‘n 11de Absa Top 10-trofee te verower.
Maryke Roberts
By vanjaar se toekenningsfunksie by die Cavalli-landgoed buite Stellenbosch, het die Kanonkop Pinotage 2010 en Rijk’s Reserve Pinotage 2013 twee van die Absa Top 10-trofeë gewen, wat aan die wenwyne in die 2016-kompetisie oorhandig is.
Die 10 wenners het ‘n totaal van 144 wyne uitgestof. Die Absa Top 10 Pinotage is vanjaar vir die 20ste keer aangebied, en word beskou as Suid-Afrika se voorste kultivar-gefokusde wynkompetisie.
Vanjaar se kompetisie herdenk ook die 20ste agtereenvolgende jaar van samewerking tussen Absa Bank Ltd (Absa), en die SA Pinotage Assosiasie, waardeur hulle erkenning gee aan Suid-Afrikaanse kelders vir hul interpretasie van die land se beroemde inheemse druifsoort.
Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, sê twee kenmerke het in vanjaar se kompetisie uitgestaan: die mylpale wat deur Kanonkop en Rijk’s behaal is, en die uitstaande vertoning van wyne gemaak uit die 2014-oesjaar, wat vier van die Top 10-wenners opgelewer het.
“Toe die Pinotage Assosiasie in 1997 die Absa Top 10-kompetisie gestig het, het ons ‘n visie gehad om nie net Pinotage-wyne te vereer nie, maar ook legendes te skep,” sê Truter. “Deur 11 keer ‘n Top 10-toekenning te wen, het Kanonkop en Rijk’s nou ongetwyfeld hulself gevestig as legendariese produsente van Pinotage, maar ook ikone in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.”
Hy is by die geleentheid vereer vir sy aandeel tot die groei van Pinotage.
Neil Ellis, sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê die paneel was nie daartoe beperk om slegs ‘n sekere styl Pinotage te bekroon nie. “My opdrag aan die beoordelaars was om objektief te wees in hul erkenning van die diversiteit wat aangetref word in die verskillende style Pinotage wat ingeskryf is, en hulle het dit werklik ter harte geneem. Vanjaar het ons baie meer voorbeelde gesien waar wynmakers nie bloot die beproefde suksesresepte wat gebruik word deur ikoonwyne uit een of twee spesifieke streke probeer naboots nie. Meer Pinotage-wyne word gemaak in style wat die beste pas by die unieke karaktereienskappe wat die wynmakers kry uit druiwe verbou in hul eie areas.”
Wynmakers en wynplase wat ook vereer is vir hul deurlopende prestasie in die Top 10-kompetisie die afgelope 20 jaar is, Etienne Louw van Altydgedacht, Anri Truter van Beyerskloof, Reg Holder van Delheim, Thys Louw van Diemersdal, Danie Steytler van Kaapzicht, Abrie Beeslaar van Kanonkop, Dirk Coetzee van L’Avenir, De Wet Viljoen van Neethlingshof, Pierre Wahl van Rijk’s, Debbie Thomson van Simonsig, Johan Jordaan van Spier, Guy Webber van Stellenzicht, Francois van Niekerk van Wellington Wyne en Danie Marai van Windmeul.
Die triomfanklike Top 10 wenners staan by Doug Walker, die provinsiale hoofbestuurder van Absa Wes-Kaap (heel links) en Beyers Truter (voorsitter van die Pinotage Assosiasie).
Die wynmakers wat almal vereer is vir hul goeie prestasies by die Absa Top 10 Pinotage-toekennings die afgelope 20 jaar. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, sit heel voor in die middel.
Die toekenningsgeleentheid is nie net vir media en wynmakers ‘n hoogtepunt nie, maar ook vir wynhandelaars en kliënte van Absa.
Die Cavalli landgoed buite Somerset-Wes.
Gaste het die geleentheid gehad om al 20 wyne te proe, voor die wen-10 aangewys is.
SOURCES
Clifford Roberts