‘Ja, die lewe is so eenvoudig soos ’n volksliedjie. ’n Mens is net nooit seker of dit in die majeur- of die mineursleutel gespeel moet word nie’
Deur JOHAN MYBURG
“Ek sweer my musiek proe na kabeljou,” het die Noorweegse komponis Edvard Grieg (1843–1907) by geleentheid gesê. Dit is ’n opmerking wat ’n mens kan terugvoer na Bergen, die stad waar hy gebore is en grootgeword het en waar sy pa ’n soutvishandelaar was. Die reuk van die vismark in die hart van die stad het dalk in ’n mens se klere gaan sit, maar luister jy na Grieg se musiek, besef jy dié opmerking het ook ’n verdere strekking.
Grieg word gereken as die komponis wat ruimskoots tot die vestiging van ’n Noorweegse nasionale identiteit bygedra het. Sedert 1380 was Noorweë nooit onafhanklik nie en jare lange Deense en Sweedse oorheersing het tot ’n politieke en kulturele minderwaardigheidsgevoel bygedra. Teen die tweede helfte van die 20ste eeu, met die opkoms van nasionalisme, het Grieg dié beweging ’n besonderse hupstoot gegee. Vir sy liedere het hy die tekste van Noorweegse digters soos Henrik Ibsen en Bjørnstjerne Bjørnson gebruik.
Noorweë het uiteindelik in 1905 sy onafhanklikheid gekry. Maar dit was veral Grieg se gebruik van tradisionele Noorweegse volksmusiek en die beskrywing van die landskap waarmee hy sy volksgenote, én die musiekwêreld buite Noorweë, betower het. Die landskap van sy vaderland het vir hom reeds al die elemente van Noorweegse kuns gehad. Vir Grieg was landskap, musiek en volk onskeidbaar en sy musiek het dié sentiment weerspieël. Sy lewe lank het Grieg inspirasie uit die musiek en klanke van Noorweë bly put. Trouens, hy was oortuig dat dit moontlik is om ’n spesifiek Noorweegse klank en styl te bewerkstellig.
LEES OOK: Klassieke klanke: Erik Satie
Wat sy eie harmoniese verbeelding bly voed het, was sy belangstelling in volksmusiek – soos dit in sy drie stelle klavierverwerkings gestalte gekry het, beginnende met die 25 Noorweegse volksliedere en danse van 1869. “Ja, die lewe is so eenvoudig soos ’n volksliedjie,” het hy by geleentheid opgemerk. “’n Mens is net nooit seker of dit in die majeur- of die mineursleutel gespeel moet word nie.” Van sy bekendste musiek is die insidentele musiek vir Ibsen se drama Peer Gynt, wat die beroemde stuk In die saal van die bergkoning insluit.
Peer Gynt is die antiheld wat ’n bruid op haar troue ontvoer, deur die omgekrapte huweliksgaste agternagesit word en eindelik val en sy kop teen ’n klip stamp. Hy word wakker, omring deur trolle wat hom herhaaldelik bykom (en wat in die musiek met elke herhaling harder voorgestel word). Eindelik kry Peer Gynt dit reg om van die trolle en die berg weg te kom. Moenie nalaat om na Oggendstemming, Anitra se dans en Solveig se lied uit die vierde bedryf van Peer Gynt te luister nie. Op YouTube is ’n opname beskikbaar van Solveig se lied wat Amelita Galli-Curci in 1917 gemaak het.
En dan is daar die Holberg-suite wat aanvanklik vir klavier geskryf is en later vir strykers verwerk is. Dié suite met vyf bewegings is op 18de-eeuse dansvorms geskoei. Sy Klavierkonsert in a, op. 16, gekomponeer in 1968, is een van die gewildste konserte in die klavierrepertorium. Hy het aan ’n tweede klavierkonsert begin werk, maar dit nooit voltooi nie. Hoewel hy in Duitsland studeer het en verskeie buitelandse reise onderneem het, het Grieg sy lewe lank hegte bande met Bergen behou. Hy was musiekdirekteur van dié stad se filharmoniese orkes. In sy hut te Trolheuwel, net buite Bergen, het hy sy musiek geskryf: in potlood en met ’n uitveër reg om foute te korrigeer. Die musiek wat na kabeljou proe.