’n Klompie nuwighede by die Grande Provence Erfenislandgoed op Franschhoek is vroeër hierdie maand aan Kaapse wyn- en kosskrywers bekend gestel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die hooffokus van die geleentheid was egter die historiese landgoes se nuwe enkel-variëteit wyn: ’n Chenin blanc.
Die landgoed het in Desember ook twee nuwe vonkelwyne bekend gestel: die Grande Provence MCC Brut en MCC Rosé Brut. Gaste by die middagete is met vonkelwyn en oesters onder die bome ontvang, voor middagete in die historiese Jonkershuis geniet is.
Die Grande Provence Chenin blanc 2017 sluit aan by drie ander wyne in die plaas se Chenin blanc-versameling: die Grande Provence White 2015, ’n versnit van Chenin blanc en Viognier; The Amphora 2016, gemaak van Chenin blanc wat vir maande op die doppe in Toskaanse klei-amfora vertoef het, en ’n skeut Muscat d’Alexandrie bevat; en, die Angels Tears Moscato/Chenin blanc 2017 is ’n prettige versnit ingestel op geur en toeganklikheid.
Dit was ook die eerste keer dat meeste van die gaste die twee nuwe kern-personeellede van Grande Provence in hul nuwe rolle ontmoet. Wynmaker Hagen Viljoen het aan die einde van verlede jaar by die plaas aangesluit en was voorheen by Solms Delta, ook in die Franschhoek-omgewing. Uitvoerende sjef Guy Bennett is min of meer dieselfde tyd aangestel en het in sy loopbaan met sjefs soos Michael Deg, Bertus Basson, Andre Steyn en Reuben Riffel gewerk.
Die spyskaart vir die middag is saam deur Hagen en Guy ontwerp om die plaas se Chenin blanc-wyne, wat die kern van die landgoed se witwyn-versameling vorm, ten toon te stel.
“Talle mense sien Chenin blanc as een van Suid-Afrika se top druifsoorte, wat die voortou neem as die dryfveer agter Suid-Afrikaanse wyne. Die toeganklikheid tot ’n ryk erfenis van ou wingerde asook die druifsoort se veelsydigheid, is beslis herbevestiging van hierdie standpunt,” sê Hagen.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.