Wat moet jy doen as jy gesteek of gebyt word? Hier is raad
Christa Swanepoel
“Muskiet-, spinnekop-, bosluis- en vlooibyte en by- en perdebysteke is redelik algemeen en gewoonlik nie skadelik vir ons gesondheid nie. Hoogstens veroorsaak dit ‘n gejeuk, pyn, swelling en rooiheid wat binne ‘n paar uur of dae verdwyn. Tog kan dit in sekere gevalle ernstig wees, veral as jy allergies is vir hierdie insekte se byte of steke,” sê dr Pete Vincent van Netcare Travel Clinics en die Tokai Medicross.
Behalwe vir malaria wat muskiete kan oordra en bosluiskoors wat jy van ‘n bosluisbyt kan kry, is sowat 3% van mense erg sensitief vir sekere insek- en spinnekopgif. Kinders en oumense het ook ‘n groter risiko om komplikasies weens byte en steke te ontwikkel en moet veral versigtig wees.
Wat moet jy doen as jy gesteek of gebyt word? Dr Pete gee raad.
Was die geaffekteerde deel met seep en water en wend dan ‘n antihistamiensalf of ‘n ligte kortisoonroom aan. Jy kan ook ‘n antihistamienpil drink. ‘n By se angel en bosluise moet eers verwyder word voor die steek- en bytplek skoongemaak word. Gebruik ‘n mes, kredietkaart en jou vingernael om die by se angel af te skraap. Probeer om dit nie te druk sodat nog meer gif in die vel ingespuit word nie. Bosluise moet met ‘n haartangetjie verwyder word. Knyp die bosluis se kop vas en trek dit uit. Probeer om nie ‘n stukkie van die bosluis in die vel agter te laat nie.
As jy vir bysteke allergies is, moet jy veral baie versigtig wees omdat selfs een bysteek lewensgevaarlike reaksies en anafilaksiese skok kan veroorsaak. In laasgenoemde geval trek die brongiole saam en kan hartversaking, sirkulasie-ineenstorting en selfs die dood voorkom.
Dis belangrik as jy vir bysteek allergies is dat jy ‘n mediese armband dra en ‘n adrenalieninspuiting en antihistamienpille saam met jou dra. Let ook daarop dat jy enige tyd in jou lewe skielik vir bysteek allergies kan word. As dit gebeur, kom so vinnig as moontlik by ‘n dokter of ‘n hospitaal se noodgevalle uit. Jy sal weet as dit nodig is as jy sukkel om asem te haal en te sluk, verstik, pyn in jou maag en/of bors ervaar, naar is en opgooi, swak voel, erge hoofpyn kry en die vel hewig reageer.
Wat van slange, spinnekoppe en skerpioene?
Baie van dié spesies in Suid-Afrika is nie giftig nie en die simptome ná ‘n byt of steek kan baie wissel. As jy nie seker is of dit giftig is nie, is dit raadsaam om dadelik dokter toe te gaan. Probeer soveel as moontlik inligting onthou van die slang of spinnekop wat jou gebyt het – neem ‘n foto as jy kan – wat behandeling sal vergemaklik.
Skerpioensteke is selde fataal, maar kan baie seer wees en sweet, hartkloppings, verhoogde bloeddruk, naarheid, braking en diarree veroorsaak. Die drie soorte spinnekoppe waarvoor jy veral moet versigtig wees, is die swart knopiespinnekop, die vioolspinnekop en die sakspinnekop. Eersgenoemde word as die gevaarlikste beskou weens sy neurotoksiese gif. Die byt kan pyn, krampe en benoudheid veroorsaak, maar reageer gewoonlik goed op tydige, mediese behandeling.
‘n Slangbyt kan matige of erge simptome veroorsaak wat swelling, verkleuring van die vel, vinnige hartklop, swakheid, kortasemheid, naarheid en braking insluit. In uiterste gevalle kan dit tot skok, stuiptrekkings en erge pyn en swelling lei. Moet nooit ‘n toerniket vir ‘n slangbyt gebruik nie en hou die bytplek altyd laer as die pasiënt se hart. Moenie dat iemand die gif probeer uitsuig nie, want dit kan tot infeksie lei.
Hoe hou jy insekte weg?
Dr Pete sê die beste manier om te voorkom dat jy gebyt of gesteek word, is om versigtig te wees. Insekweerders (spirale, kerse, spuitgoed en rome wat N-Diethyl-meta-toluamide (DEET) bevat) is gewoonlik baie doeltreffend. Dit behoort insekte tot 300 minute weg te hou. Jy kan ook onder ‘n muskietnet slaap.
Blomgeure en helder kleure trek sommige insekte aan. As jy buite is waar baie muskiete is, moenie parfuum dra nie en dra ligte kleure. As jy in lang gras stap, dra toe skoene en ‘n langbroek wat jy in jou kouse of stewels druk en spuit insekweerder op jou klere.
Skud jou skoene uit voor jy dit aantrek en bly op die paadjies as jy in die veld stap. Moenie moeilikheid soek nie. Loop wye draaie as jy ’n slang, spinnekop of skerpioen gewaar.
SOURCES
Verskaf