Klein Imke Geldenhuys is op pad New York toe vir haar kankerbehandeling
Vrouekeur het in Julie vanjaar Imke Geldenhuys se storie vertel. Imke is die dogtertjie wat vroeër vanjaar met hoë-risiko-neuroblastoma gediagnoseer is.
Haar ouers, Darius en Ilona, het nooit gedink dat sy kanker sou kry nie. “Ons was maar soos enige ander gesin – jy dink glad nie dat so iets met jou kan gebeur nie,” sê Darius.
Rondom die tyd van Imke se diagnose is haar tweelingsussies gebore en moes die gesin ‘n mengelmoes van emosies hanteer – blydskap en dankbaarheid oor die geboorte van twee perfekte dogtertjies en ongeloof, skok en hartseer oor hul oudste se kankerdiagnose.
Die gesin het sterk gestaan in hul geloof en bly glo daar sal ‘n uitkoms kom.
Imke moes dadelik met chemoterapie begin. “Dit was traumaties om die uitwerking van chemoterapie op ons kind te sien. Ons moes hulpeloos toekyk hoe dit haar liggaampie aftakel – haar hare wat uitval, die naarheid en die moegheid. Geen kind moet hierdeur hoef te gaan nie,” vertel Darius.
Ná verskeie chemosessies het Imke weer in April vir skanderings gegaan, wat gewys het dat die gewas wonderbaarlik gekrimp het.
Die gesin was dankbaar dat die gewas verwyder kon word, maar Imke moet immunoterapie ontvang om haar stryd teen kanker finaal te oorwin. Hierdie tipe terapie word in Australië en Amerika gedoen. Die geriewe by die Memorial Sloane Kettering-hospitaal in New York is fenomenaal, maar die koste is ‘n uitdaging.
Die koste van die immunoterapie is só hoog dat vriende en familie ingespring het en begin help het om genoeg geld in te samel sodat sy vir die terapie kan gaan. Kort voor lank het kinders hul sakgeld vir Imke begin gee en groot maatskappye het hul harte en beursies oopgemaak.
Wikus Oliver, ‘n skuldkenner by DebtSafe’s was een van die fietsryers wat aan DebtSafe se Ride for Imke-veldtog deelgeneem het. “Ek het ook ‘n klein dogtertjie en as ‘n ouer weet ek daar is niks wat jy nie vir jou kind sal doen nie. Dit is wonderlik om deel van ‘n ware wonderwerk te wees.”
Imke se pa vertel dat sy twee weke gelede ‘n koors gehad het met geen immuniteit om dit te beveg nie. “Ons kon net vir haar bid en God vir nog ‘n wonderwerk vertrou. Ons het eers agterna by die dokter gehoor hoe naby ons daaraan was om ons dogtertjie te verloor … ”
Nog ‘n wonderwerk was dat ‘n onkoloog by die Memorial Sloan-hospitaal reeds via ‘n Suid-Afrikaanse onkoloog Imke met ‘n spesifieke chemoprotokol behandel het. Imke is voorberei om die immunoterapie-behandelings in Amerika te ontvang hoewel daar geen versekering was dat hulle die bedrag sou kon bybring nie.
Ná ‘n MRI-skandering was Imke gereed vir die reis en meer as R8 miljoen is in net meer as drie maande ingesamel en die gesin was reg vir die reis. ‘n Plaaslike reisagentskap Travel with Flair het die gesin se vlugkaartjies betaal en hulle sal 17 September na New York vertrek.
‘n Amerikaner het aangebied om vir die gesin se akkommodasie in New York te betaal en sal ook die res van die hospitaalrekening dek. Imke sal vyf immunoterapie-behandelings (een per maand) ondergaan.
Besoek “Gebede vir Imke” op Facebook