’n Mens eet partykeer die kos in jou bord sonder om te besef wat dit vir jou liggaam werd is. Loer in ons 16 Mei-uitgawe en kyk hier hoe gesond sampioene vir jou is
CHRISTA SWANEPOEL
Sampioene op enige manier is ‘n heerlikte op jou bord, maar het jy geweet watter geheime skuil daar in dié kos?
Sampioene is baie laag in kilojoules en help om eetlus te beheer, wat dit ideaal maak as jy gewig wil verloor. Omdat gewigverlies jigaanvalle in die nag verminder, hou dit bykomende voordele vir jiglyers in.
Dit is belangrik om daarop te let dat anders as wat geglo word, sekere vrugte, groente of sampioene nie jig veroorsaak of dit vererger nie. Trouens nie-dierlike kos soos sampioene, vrugte, peulvrugte, neute en groente kan jou juis teen jig beskerm en hoef nie in die dieet beperk te word as jy aan jig ly nie.
Vroeër het dieetkundiges aanbeveel dat sampioene of groente soos ertjies, bone, lensies, spinasie en aspersie, wat purien bevat, vermy moet word. Daar is egter nie bewyse dat kos wat ‘n bietjie purien bevat uriensuurvlakke sal laat styg en ‘n jigaanval tot gevolg sal hê nie.
Gluten en glutamaat is twee baie verskillende komponente in kos. Sampioen het hope van die een en niks van die ander nie.
Daar is oorvloedige geurige natuurlike glutamaat in sampioene, en geen gluten nie. Laasgenoemde is ‘n soort proteïen wat in baie grane soos koring, rog en gort voorkom. Sommige mense is sensitief vir gluten, soos mense met seliaksiekte, en al meer mense vermy gluten in hul dieet.
Die goeie nuus is dat sampioene geen gluten bevat nie en maklik in ‘n glutenvrye dieet ingewerk kan word. Baie mense was bekommerd dat sampioene gluten sal bevat omdat dit in koringstrooi groei, maar daar is geen gluten in die strooi nie, net in die koringaar en dit word nie in die kompas gebruik nie. Jy hoef ook nie die kompos af te was wat soms op sampioene te sien is nie – jy kan dit net afvee.
Dit is egter die natuurlike glutamaat in sampioene wat dit die kenmerkende smaak gee, wat ewe veel deur vleiseters en vegetariërs geniet word.
Glutamaat is ‘n aminosuur wat in alle voedsel met proteïen voorkom. Glutamaat word ook in die liggaam vervaardig, met hoë vlakke daarvan in die spiere en brein. Dit word deur die helfte van alle senuselle in die brein as neurotransmittor gebruik.
Die glutamaatvlakke, en daarom die geur, verhoog soos die sampioen groei. Die groot bruin Portabella-sampioene is gewoonlik geuriger as die knopiesampioene. Natuurlike glutamaan is ook vir die geur in parmesaankaas, sojasous, ansjovis, tamatiesous, Vegemite en Marmite verantwoordelik.
Let daarop dat die natuurlike glutamaat in sampioene is nie monosodium glutamaat nie. Daar is geen MSG in sampioene nie.
Besoek www.mushroominfo.co.za vir meer inligting oor sampioene