Nuutste in The Glenlivet se beperkte oplaag “misterieuse” whiskies bekendgestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
The Glenlivet Skotse whisky, het pas die derde in hul reeks “misterieuse” enkelmout-whiskies, The Glenlivet Limited Edition Code, in Kaapstad bekendgestel
Dié whisky word egter heeltemal anders vrygestel as waaraan verbruikers gewoond is: sonder enige inligting of proenotas. Die doel hiervoor, het Eugene Lenford, handelsmerkbestuurder, verduidelik, is dat whiskyliefhebbers op ’n ontdekkingsreis gaan en self die smaak ontsluit.
Die vorige twee whiskies in die reeks, die Alpha en Cipher, is die afgelope twee jaar vrygestel en het binne drie weke in Suid-Afrika uitverkoop. Slegs beperkte hoeveelhede word vrygestel.
Pernod Ricard se Bartique is omskep in ’n deftige restaurant met goud en swart as tema om dié geleentheid te vier. Die aand het alles om misterie en kodes gehandel. Uit die dak het letters in verskillende volgordes gehang, wat vir dié wat mooi gekyk het, die woorde “The Glenlivet Code” uitgespel het. Onder elke gas se glas, onder borde en in spyskaarte, was daar geheime nommers om die slot oop te sluit, om een van twee van hierdie gesogte whiskys te kon wen.
Die distilleerdery se meester-distilleerder, Alan Winchester, is baie trots op Code. “Ons het hier ’n unieke produk gemaak, waarin ons ook ons eie grense verskuif het. Die whisky is ’n ware labirint van geure, wat elke whiskyliefhebber se smaakkliere sal plesier. Ons nooi whiskydrinkers regoor die wêreld om die geur te ontsluit.”
Hy het gesê die interaktiewe manier om dié whisky vry te stel, bied aan whiskyliefhebbers die geleentheid om nie net hul kennis van enkelmout whiskies uit te brei nie, maar ook ’n beter begrip vir die glorieryke storie van The Glenlivet te kry.
Dit is in 1824 vir die eerste maal deur die Skot George Smit, gemaak.
Neem deel aan die misterie en ontsluit die smaak. Koop ’n bottel en volg die instruksies en staan die kans om ’n handgemaakte whiskykluis ter waarde van R20 000 te wen, of volg die opwinding aanlyn en wen ’n eksklusiewe proe met die The Glenlivet handelsmerk ambassadeur.
Die voorgestelde kleinhandelprys vir The Glenlivet Code in SA is R1 500.