Whisky-liefhebbers sal opgewonde wees oor Glenfiddich se nuutste produk in Suid-Afrika
Deur CLIFFORD ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Winter Storm is deel van die bekende Skotse-handelsmerk se eksperimentele reeks van drie omdat die 21-jaar-oue whisky deels in yswyn-vate verouder is.
Met die loods van die whisky verlede maand is ‘n groep joernaliste genooi om by die V&A Waterfront se swierige Silo Hotel al drie in die reeks te proe. Buiten Winter Storm, bestaan die reeks uit Glenfiddich se The IPA Experiment, wat die whisky deels in vate verouder waarin hierdie tipe bier gemaak is; en, Project XX, waarby 20 bedryfskenners by die versnit betrokke was.
Daar is slegs 150 bottels van Winter Storm aan Suid-Afrika beskikbaar gestel, en elk verkoop teen R3 499,99.
Skotse whisky word volgens streng maatreëls, tradisioneel in ou eikehout-vate verouder. Vate wat voorheen vir die maak van byvoorbeeld sjerrie of sommige biere gebruik is, word bygevoeg om ander geur-nuanse te beklemtoon. In die geval van Winter Storm, is yswyn-vate wat vir nege jaar Riesling-wyn verouder het, vir die whisky gebruik.
Yswyn word in koue dele van die wêreld gemaak, waar wingerde dikwels onder sneeu bedek word. Die druiwe vries en word ook só geoes. Die wyn wat hulle produseer is soet en geurig, en dit is hierdie geure wat dan ook in Winter Storm te voorskyn kom. Dié yswyn-vate is van die Peller-landgoed in Kanada afkomstig.