Die inwoners van die Eikestad het die afgelope naweek by ’n kos-en-wyn-fees uitgehang
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die Stellenbosch Fynproewersgilde het in 1973 die eerste Voedsel-en-wyn-fees aangebied en die stadsaal was altyd die tuiste hiervan. In 2000 is dié fees die laaste keer in die stadsaal gehou en verskeie jare is net ’n Stellenbosch Wynfees by Paul Roos Gimnasium gehou.
“Ons bring dié tradisie wat so eie aan Stellenbosch is van vanjaar terug stadsaal toe, maar die fees het grootgeword en is nou baie gesofistikeerd. Die fees heet nou die Stellenbosch Fine Wine and Food Festival en word deur Nedbank Private Wealth aangebied,” vertel Elmarie Rabe, bestuurder van die Stellenbosch Wynroetes, wat uit vyf substreke bestaan.
Gaste kon byna 150 wit- en rooiwyne, versnitte en Methode Cap Classique vonkelwyne proe. Net wyne wat van druiwe wat in die Stellenbosch-streek groei, gemaak is, is vir proe aangebied.
Sjefs Bertus Basson (waaronder Overture en Eike), George Jardine (waaronder Jordan Restaurant en Restaurant Seven), Michael Deg (Cavalli), Lucas Carstens (Majeka House), Virgil Khan (Indochine, Delaire Graff) en Maritz Jacobs (Longridge Wyne), het heerlike geregte in klein porsies bedien sodat gaste soveel moontlik disse met verskillende wynkultivars kon proe. Benewens die ses sjefs se peuselstasies was daar ’n reuse brood-en-kaas-tafel waar die dorp nog verder met sy uithaler-produkte kon flikkersgooi.
Okasie blom-kunstenaars op die dorp het die stadsaal in ’n luukse sitkamer met fluweelbanke, koffietafeltjies, plante en hope blomme omtower. Die verhoog was die lekkerste plek om te sit en kuier en op die bedrywighede onder in die saal af te kyk. Een kaartjie het gaste toegang tot die kos, wyn, vermaak, water en koffie gegee en daar is saans tot laat gekuier.
Daar was ‘n pragtige ligvertoning buite deur Inhouse VTM aangebied. Die spierwit stadsaal is as skilderdoek gebruik en Jacques Fourie en sy span het Stellebosch-beelde en videos teen die mure vertoon. Hul fokus was tonele eie aan Stellenbosch en eg-Suid-Afrikaanse musiek soos Johnny Clegg, Hugh Masekela en Miriam Makeba is binne die saal deur die Zamar Trio en Zamar Duet gespeel. Die grasperk voor die stadsaal was net die regte plek om na dié lig-en-beeldvertoning te kyk en gou was dit net so ’n lekker kuierplek soos binne die stadsaal.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.