Rillers wat jou koue rillings gee, rekenaarspeletjies waar die koppe letterlik waai en ’n internetwêreld wat jou nagte laat wakker lê. Wat is die effek van dit alles op tieners en kinders? vra Ansja Ferreira in ons 2 Januarie-uitgawe.
Ansja Ferreira
Hier kyk sy na ’n paar interessante navorsingsbevindings oor kinders en tieners en gewelddadige rolprente.
Die verkeerde rolprent op die verkeerde tyd
Kleuters en jong kinders wat aan gewelddadige rolprente, TV-programme of rekenaarspeletjies blootgestel is, kan meer geneig wees om angs, slaapversteurings, aggressiewe en selfbenadelende gedrag te ontwikkel, volgens ’n studie deur die Morgan Stanley Children’s Hospital of NewYork-Presbyterian and Columbia University Medical Center.
Volgens Joanne Cantor, skrywer van Mommy I’m Scared: How TV and Movies Frighten Children and What We Can Do To Protect Them en ’n kenner op die gebied van die media en kinders se vrese, kan die verkeerde rolprent (riller) op die verkeerde tyd (onder die ouderdom van 12 jaar) ’n persoon vir jare daarna beïnvloed en onder meer tot vrees vir die donker lei.
In ’n steekproef onder ouers van jong skoolkinders in Madison, is slaapversteurings en maagkwale algemene klagtes wat gevolg het nadat ’n kind iets vreesaanjaend op die TV gesien het. (Cantor, 1998).
Vrees vir haaie, honde of insekte weens rolprente?
Studies en verslae het ook gewys dat dit glad nie ongewoon was om nie meer in die see te swem nadat mense die fliek Jaws gesien het nie. ’n Verbasende aantal mense het ná hierdie fliek heeltemal opgehou om in die see te swem. Baie ander mense kan hul langtermynvrese vir spesifieke diere soos katte, honde of insekte ná hul blootstelling in hul kinderjare na strokiesprente soos Alice in Wonderland of Beauty and the Beast of rillers herlei.
Onderontwikkelde ‘morele volwassenheid’
Die speel van gewelddadige videospeletjies vir lang tydperke kan die “morele volwassenheid” van tieners terughou of belemmer, volgens ’n Kanadese studie deur die Brock-universiteit.
’n Diepgaande ondersoek oor die gedrag van ongeveer 100 13- en 14-jariges het bevind dat die oorblootstelling aan gewelddadige speletjies hul empatie vir ander verswak. Meer as die helfte van die tieners in die ondersoek het elke dag videospeletjies gespeel, met gewelddadige speletjies wat die meeste gespeel is.
Navorsers waarsku teen adolessente se verlies aan ’n sin van “reg en verkeerd”. Volgens die studie: “Deur te veel tyd in die virtuele wêreld van geweld deur te bring, kan die spelers keer om in verskillende positiewe ervaringe in die ware lewe betrokke te raad en om ’n positiewe sin van wat reg en verkeerd is te ontwikkel.
Kinders het sosiale situasies nodig
Navorsers beveel aan dat ouers hierdie tieners met hul skermobsessie in sosiale situasies moet plaas waar hulle ander mense se perspektiewe of behoeftes kan raaksien, soos by liefdadigheidswerk.
Volgens Wayne Warburton, ’n ontwikkelingsielkundige en skrywer van die boek Growing Up Fast and Furious: Reviewing the Impacts of Violent and Sexualised Media on Children, word die negatiewe impak wat gewelddadige media op kinders het, deur navorsing bevestig.
“Dit sluit in ’n toename in die geneigdheid om aggressief op te tree, ’n toename in die desensitasie vir geweld en ’n toename in die algehele siening dat die wêreld meer vreesaanjaend en vyandig is as wat dit werklik is,” het hy gesê.
Meer inligting
http://www.pamf.org/parenting-teens/general/media-web/videogames.html
http://www.bbc.com/news/education-26049333
http://nyp.org/news/hospital/1110.html