Die Hoghouse BBQ & Bakery at Spier in die Jonkershuis op die Spier landgoed buite Stellenbosch, het pas ‘n opknapping ondergaan en is ook nou Donderdag-, Vrydag- en Saterdagaande oop.
Die geleentheid is met ‘n “Beats & BBQ” fees gevier. Die musiek is gemaak deur Stone Jets en daar is tot ligdag geskoffel, gekuier en gesmul.
Die Hoghouse at Spier is die ideale plek om na werk saam met vriende te gaan ontspan. Buite om die braaidromme word daar gekuier, terwyl interessante speletjies in die vierkant voor die restaurant gespeel kan word. Die restaurant se drie hoof spesialiteite is bier, braaivleis en brood en sedert hulle ‘n nuwe roker aangekoop het, fokus hulle op stadiggerookte vleis wat van die been afval.
Sjef PJ Vadas sê: “Ek is mal oor eenvoudige, onpretensieuse kos sodat die individuele bestanddele na vore kom. Ons kombuisfilosofie is om plaaslike produsente te ondersteun, wat volhoubaarheid en etiese boerderypraktyke gebruik.”
Elke Vrydagmiddag om 17:00 maak die span by Hoghouse een biervaatjie oop, wat gratis aan besoekers verskaf word. As die bier op is, begin jy vir jou drankies betaal.
Dan begin jy honger raak en so tussen die ribbetjies, gebraaide mielies en hoenderboudjies deur, sleep jy jou brood deur die olyfolie en vleissousies en voel asof jy tuis is saam met vriende.
Volg #freekegfriday vir al die pret.
Die restaurant is in die Jonkershuis op Spier ingerig en die vierkant word ingespan vir lekker speletjies.
Annareth Bolton van Destinate, glanssjef Tiaan Langenegger en Mariëtte du Toit-Helmbold van Destinate by die fees van bier, braaivleis en brood.
Die manne agter die wen-restaurant is van links sjef PJ Vadass, Matt Naude en Karu Pillay
By die BBQ & Beats funksie het die Stone Jets die musiek verskaf.
Die verskeidenheid op die spyskaart het iets vir almal en selfs groente lyk aanloklik.
Selfs die soettande is nie afgeskeep nie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.