Elke sent wat jy spaar, beteken ‘n ekstra sent by jou spaargeld. Hier is ‘n paar maniere waarop jy geld kan spaar
Elke sent wat jy spaar, beteken ’n ekstra sent byjou spaargeld. Hier is ’n paar maniere waarop jy geld kan spaar:
1. Soek ’n versekeringsplan wat die beste waarde vir jou geld bied. Moenie aanvaar die versekering wat jy het is die goedkoopste nie. Bel rond en doen navraag. Moenie ’n kans waag met ’n goedkoop versekerings-maatskappy wat nie ’n goeie reputasie het nie.
2. Konsolideer jou kredietkaart en ander korttermynskuld met hoë rentekoerse in jou huisverband wat ’n veel laer rentekoers het. Wanneer jy jou skuld op hierdie manier afbetaal, knip jou kaarte op en maak só doodseker jy beland nie weer in die skuldslaggat nie.
3. As jy huur, probeer om jou eie huis te koop. Wanneer jy huur, betaal jy iemand anders se huis of woonstel vir hom. Jy kan ook sekere belastingvoordele kry as jy op ’n huis terugbetaal.
4. Spaar op jou huishoudelike uitgawes soos die elektrisiteitsrekening. Volg beslis die wenke in dié verband wat oral te kry is.
5. Neem toebroodjies saam werk toe en spaar só ’n klomp geld. Pak vir die kinders ’n broodjie in skool toe en moenie hulle elke oggend geld in die hand stop vir lekkernye by die snoepwinkel nie.
6. In plaas daarvan om in die teater te gaan fliek, huur ’n DVD. Net wat jy spaar op elkeen se eetgoed tydens die uitstappie, gaan al ’n klomp ekstra geld in jou sak beteken.
7. Beplan jou motorritte en doen meer as een ding as jy die slag moet ry.
8. Sorg dat jy net een maal per week in die supermark kom. Sodoende spaar jy ’n klomp geld op onnodige dinge omdat ’n mens elke keer iets koop wat nie op jou lysie is nie. En jy besnoei op jou petrolrekening.
9. Maak ’n lysie met dit wat jy van plan is om te koop. Hou by die lysie en moenie swig voor winskopies wat jy in elk geval nie nodig het, lekkernye of ander luukshede nie.
10. Vind uit watter telefoontariewe die laagste is. Verskillende selfoonverskaffers ding mee om jou die beste pryse te bied, maak seker jy benut hierdie besparingsplan. Telkom bied ook pakkette aan wat jou telefoonrekening aansienlik gaan sny.
11. Vra jou selfoonmaatskappy om jou te laat weet as jy 80% van jou R300-kontrak (ter illustrasie) gebruik het. Die maatskappy kan ook uitgaande oproepe blokkeer en slegs as jy so ’n versoek rig sal jou limiet verhoog word. ’n Mens kan op hierdie manier seker maak jy bly binne jou begroting en honderde rande spaar.
12. Sluit by jou plaaslike biblioteek aan. Teen ’n baie lae jaarlikse bedrag kan jy ’n groot verskeidenheid boeke lees. In een van die Amerikaanse selfhelpboeke wat jou vertel hoe om uit die skuld te kom, sê die skrywer hy hoop die leser het die boek by die biblioteek uitgeneem en nie self gekoop nie! Gaan snuffel in tweedehandse boekwinkels rond en koop boeke teen ’n fraksie van die oorspronklike prys.
13. Teken saam met ’n vriendin op ’n tydskrif in. Op dié manier spaar jy baie geld of jy kan twee keer soveel leesstof teen die selfde bedrag per maand bekom. Jaarlikse intekeninggeld op ’n tydskrif is ook veel goedkoper as om vir elke uitgawe afsonderlik te betaal. (Teken hier in op Vrouekeur >>)
14. Waak daarteen om iets nuuts op die mark te koop wanneer dit bekendgestel word. Die prys neem dikwels af ná die aanvanklike bekendstelling.